

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 July 2013
“Inwoners moet daarop fokus om hulle rekeninge te betaal en nie om te spekuleer of te konsentreer op onbenullige sake (trivial issues) nie,” sê die Makhado Munisipaliteit.
Op die oog af klink dit na goeie raad. Die enigste probleem is dat die onbenullige sake waarna verwys word, die afwesigheid van elektrisiteit in Makhado (Louis Trichardt) is. Die dorp kan moontlik sonder krag en water sit weens nie-betaling of laatbetaling van die munisipaliteit se Eskomrekening.
Daar is klaarblyklik ‘n raadsbesluit geneem dat ‘n bedrag van R817 022.17 agterstallige rente vir skuld aan Eskom betaal moet word. Dit luidens ‘n verslag oor vrugtelose uitgawes in die 2012/13 finansiële jaar, in terme van artikel 32 van die plaaslike regering se munisipale finansiële bestuurswet (MFMA), Wet 56 van 2003.
Op die vraag wat die totale uitstaande skuld aan Eskom is as die rente alleen meer as R817 000 beloop, was die munisipaliteit vaag en het net gesê dat hulle elke maand rekeninge van Eskom ontvang. “Ons maandelikse uitgawes [vir Eskom] is sowat R11 miljoen,” het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, in ‘n e-pos gesê en bygevoeg dat enige reëlings vir afbetalings in dié verband “interne sake” is.
Op die lys van vrugtelose en verkwistende uitgawes was daar een van die Makhado Munisipaliteit se Eskomrekeninge wat op 17 Mei vanjaar rente op agterstallige skuld gedra het van meer as R93 000. Verskeie ander rekenings het ook rente geloop. Op dieselfde lys is ook ook rente op agterstallige skuld aan Telkom aangedui.
Die munisipaliteit het gesê dat daar “geen gevaar” is dat Eskom die krag kan afsny, omdat die munisipaliteit agterstallig is nie. Volgens inligting verskaf was daar egter reeds ‘n afvaardiging van Eskom wat die munisipaliteit hierdie jaar besoek het met ‘n waarskuwing dat die krag afgesit kan word. Daarna is glo reëlings met Eskom getref vir afbetaling, wat nie dadelik nagekom is nie.
Eskom het nie gereageer op die vraag oor die Makhado Munisipaliteit se totale skuld en verwante navrae nie. ‘n Parlementêre vraag wat gestel is oor vier provinsies se skuld aan Eskom moes beantwoord word en het aan die lig gebring dat munisipaliteite in die Oos-Kaap, die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes vir Eskom ‘n totaal van R1.1 biljoen skuld. Een munisipaliteit in die Vrystaat skuld R463.8 miljoen en een in Mpumalanga skuld R463.6 miljoen. Dit is die hoogste bedrae. Die vrae het nie oor die ander vyf provinsies gehandel nie. Engineering News het aanlyn berig dat Eskom in Maart verskeie munisipaliteite gewaarsku het in verband met moontlike afsny van die toevoer van elektrisiteit as gevolg van nie-betaling of agterstallige skuld.
Volgens plaaslike DA-raadslid Brian du Plooy moet die meer as R817 000 agterstallige rente aan Eskom terugbetaal word. “Daar was ‘n raadsbesluit dat dit betaal moet word. Die munisipaliteit moet hulle administrasie in orde kry en nie onnodig vrugtelose uitgawes aangaan nie,” het Du Plooy gesê.
Wat die stelling betref dat inwoners net hulle rekeninge moet betaal en nie moet steur aan sogenaamde “onbenullige sake” nie, het Du Plooy gesê dat die betaling van die Eskom elektrisiteitsrekening nie ‘n onbenullige saak is nie, maar 'n belangrike een, want dit is die inwoners wat sonder krag gaan sit as daar volgehoue nie-betaling en wanbetaling van rekenings is. “Alles behoort bo verdenking en deursigtig vir almal te wees. Die raad moet nie vergeet dat hulle vir die belastingbetalers werk nie,” het Du Plooy gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
