

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 July 2013
“Ek het gedog ek is okay, maar toe kom die ambulans en sê ek moet eerder hospitaal toe gaan.”
So het mnr. JJ Jooste vertel, nadat hy verlede Donderdagaand ter nouernood aan die dood ontkom het in ‘n motorongeluk in Kroghstraat. Die 33-jarige Jooste is gelukkig om te leef, nadat ‘n ander voertuig glo in hom vasgery het. Die ongeluk het skuins oorkant die Poskantoor plaasgevind.
Jooste het met sy motorfiets in ‘n noordelike rigting gery. Hy onthou dat hy naby Sinewave van die regterbaan na die linkerbaan oorgegaan het, sodat hy by Gen-Key kon parkeer.
‘n Luukse stasiewa, wat in dieselfde rigting gery het en agter Jooste was, het volgens Jooste met ‘n “helse spoed” agter in sy motorfiets vasgejaag. Die impak van die ongeluk het tot gevolg gehad dat Jooste se motorfiets teen ‘n geparkeerde voertuig gebots het en toe in stukke teen ‘n pilaar op die sypaadjie voor Gen-Key tot stilstand gekom het.
Die bestuurder van die stasiewa het beheer verloor oor sy voertuig en dié het teen ‘n ander pilaar te lande gekom sodat die neus van die voertuig in die teenoorgestelde rigting gewys het.
Jooste se lyf is oortrek van die bloukolle soos wat hy van sy motorfiets afgeval het. Beide sy enkels is ook erg gekneus. Teen Dinsdag het dit al beter gegaan met hom en het hy gesê dat hy weer binnekort na sy werk sal terugkeer.
Die bestuurder van die stasiewa en sy twee passasiers is nie beseer in die ongeluk nie.
“Dit is ‘n hartseer storie dié,” het hy opgemerk oor sy motorfiets wat nou afgeskryf is.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
