

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 June 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Terwyl meeste mense Sondae rustig by die huis verkeer, is daar steeds geen rus vir boere wat om die uur moet bontstaan om hul vee, wild en eiendom teen 'n meedoënlose aanslag van misdaad te beskerm nie.
Soortgelyks mnr. Gert van Zyl van die plaas Melkhoutkopjes. As 63-jarige man moes hy Sondag sowat drie kilometer hardloop op die klank van blaffende, onwettige jaghonde. Dit terwyl hy eintlik op pad was kerk toe. Wat hy gevind het was iets wat boere daagliks in die gesig moet staar – die probleem van onwettige jagters wat met troppe uitgehongerde jaghonde vee en wild op wreedaardige wyse doodmaak.
'n Trop van sowat agt jaghonde het 'n uitgegroeide koedoebul in 'n kloof vasgekeer. Die bul se voorpote het in 'n klipskeur verstrengel geraak en die jaghonde het om die beurt diep gate in die koedoebul se hakskene en neus gebyt. In daardie stadium was beide sy ore reeds feitlik afgeskeur. Die bloedspoor wat die koedoe tot op daardie punt gelos het, insluitend wit stukkies beensplinters, was stille getuienis van die stryd wat die bul al vir etlike minute moes gevoer het. Die beensplinters was afkomstig vanuit een van die bul se voorbene. Hy het vermoedelik die been gebreek in die worsteling met die honde. Soos wat hy probeer het om van die honde af weg te kom, het die been net verder en verder gesplinter, totdat daar uiteindelik net 'n stuk vel tussen sy knie en kloutjie oor was.
"Die pyn wat die arme bok moes verduur het, moes ondraaglik gewees het," sê mnr. Van Zyl.
Mnr. Van Zyl het die bok en die trop jaghonde onder 'n ses meter hoë damwal in 'n kloof aangetref. Hy kon daarin slaag om vier skote af te kry, alvorens die honde die bosse in verdwyn het. Drie honde het hy langs die bok doodgeskiet, terwyl hy 'n vierde een gekwes het.
"Hopelik sal die vuilgoed êrens in die bos vrek of dalk by sy 'baas' se huis," het mnr. Van Zyl ontsteld opgemerk.
Mnr. Van Zyl sê hy kon sien dat die bok nie weer sou opstaan nie en noodgedwonge moes hy die bul vankant maak – 'n dier wat hy weens die droogte uit sy eie sak voer gegee het en as 'n bate tot die plaas bestuur het. "Mense, veral dorpsbewoners, besef nie die werklike omvang van die probleem van onwettige jagters nie. Ek het al ophou tel hoeveel wild en vee ons op die plaas as gevolg van draadstrikke en onwettige jagters en hul jaghonde verloor het." Mnr. Van Zyl was vinnig om uit te lig dat hyself in sy privaat hoedanigheid, asook as lid van die Bankop Aksie Komitee, herhaaldelik die kwessie met die polisie en betrokke staatsdepartemente opgeneem het, maar sonder enige resultate. In Februarie vanjaar is 'n massavergadering van boere gereël om die probleem van onwettige jagters en misdaad op plase aan te spreek. Behalwe vir die Departement van Omgewingsake, het geen ander van die genooide staatsdepartemente as belangrike rolspelers die moeite gedoen om die vergadering by te woon nie. Genoemde instansies is die Departement van Veiligheid en Sekuriteit, Departement van Justisie en die Departement van Landbou. Dit, terwyl die kommerwekkende omvang van die probleem herhaaldelik onder hulle aandag gebring is – 'n probleem wat selfs op die gewilde natuurleweprogram, 50/50, uitgelig is. Dit was tydens dieselfde vergadering wat boere gedreig het om wet en orde in eie hande te neem. Selfs die staatspresident is versoek om persoonlik in te gryp - sover sonder sukses.
"Tot op hede het die regering nog nie 'n vinger verroer om boere te steun in hul stryd teen misdaad nie. Watter boodskap stuur hulle aan boere? Is ons maar aan ons eie lot oorgelaat en moet ons onsself beskerm? Dit wil my so voorkom, maar die regering is vinnig om jou as 'n rassis of ver-regse te brandmerk wanneer jy wel die dag optree teen misdadigers wat jou en jou eiendom bedreig. Nee, genoeg is genoeg! Wat moet ons as boere nog doen?"

ADVERTISEMENT:
