

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 July 2013
Was dit bloot kattekwaad of iemand wat ‘n boodskap wil stuur?
Dit is van die vrae wat gevra word nadat boosdoeners Maandagaand twee stoptekens, ‘n bord wat gestremde parkering aandui, ‘n tuinplant, plakkaat en een van die nuwe borde wat die munisipale parkeertariewe aandui, voor die Zoutpansberger se kantore in Makhado (Louis Trichardt) afgelaai het.
“Niemand sal seker agterkom die twee stoptekens is weg nie, want niemand stop in elk geval by die bestaande stoptekens in hierdie dorp nie,” het een besoeker aan die koerant se kantore opgemerk by navraag wat die borde daar maak.
Die verkeerstekens en borde is vroeg Dinsdagoggend gevind en is vermoedelik deur die aand in Songozwistraat geplunder. Die bord wat die nuwe parkeerstelsel en –tariewe in die middedorp aandui, is blykbaar net twee dae vantevore in Songozwistraat opgerig.
“Ons sal die saak dadelik by die polisie aanmeld,” het Makhado munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi op besoek aan die koerant gesê en inwoners versoek om munisipale eiendom te respekteer. Hy het gemaan dat veral die verwydering van die stopstrate ‘n ernstige oortreding is, aangesien dit inwoners se lewens in gevaar stel.
"Uit ‘n finansiële oogpunt kos dit die munisipaliteit baie geld om beskadigde en gesteelde infrastruktuur te vervang,” het Bobodi gesê en bygevoeg dat optrede soos hierdie dienslewering nadelig beïnvloed as die munisipaliteit buiten hulle gewone verpligtinge ekstra tyd moet spandeer om infrastruktuur te herstel of vervang. Hy het inwoners versoek om dadelik die polisie of munisipaliteit te skakel indien hulle weet wie vir die daad verantwoordelik was, of iemand betrap wat munisipale infrastruktuur steel of beskadig. In sulke gevalle kan die kantoor van die munisipale beskermingsdienste geskakel word by tel. 015 519 3000 of die na-uurse oproepsentrum by 015 516 2990/1/2/3/4.
Intussen het die munisipaliteit weer hul verkeerstekens en borde kom opeis.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
