

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 July 2013
Mnr. Gert van Zyl van Makhado (Louis Trichardt) se beskermengeltjies het Maandagoggend oortyd gewerk, nadat hy ongedeerd uit die wrak van sy bakkie geklim het ná ‘n byna noodlottige botsing met ‘n rondloperbees.
Op 73-jarige ouderdom werk Oom Gert, soos hy alombekend staan, steeds voltyds as Klerk van Werke by die multimiljoen-rand opgradering van die Letaba Hospitaal. Vir die afgelope sewe jaar reis hy elke Maandagoggend na Letaba en Vrydagmiddae weer huiswaarts. Gedurende dié tydperk was daar talle noue ontkomings op die pad, maar niks so ernstig soos sy botsing Maandagoggend nie.
Net ná ses die oggend, in die bergpas af sowat nege kilometer vanaf Morobeng op pad na Tzaneen, sien hy ‘n aankomende voertuig vir hom ligte flikker om ‘n blinde draai.
“Ek het besef dit is ‘n waarskuwing, maar dit was reeds te laat. Die volgende oomblik was daar net ‘n slag en rook orals binne die kar ... Die ergste was dat ek skielik niks kon sien nie. Gelukkig het ek die helderheid van verstand gehad om die elektriese syvenster met die elmboog af te rol en so met die gesig buite, die bakkie tot ‘n veilige stilstand te bring,” vertel Oom Gert.
En was hy nie gelukkig nie ... Daar was ‘n hele trop beeste wat om die blinde draai in die pad lê en slaap het. Hy het net een getref. Weerskante van die pad, waar hy die bees getref het, was daar afgronde. Sou hy ook net vyf meter verder tot stilstand gekom het, sou sy bakkie omgeslaan het vanweë ‘n styl heuwel aan die kant van die pad. Sy linkervoorwiel het net die wal begin uitklim. En die rede hoekom Oom Gert nie kon sien nie … dit was omdat die bees die enjinkap bo-oor die windskerm gedruk het.
“Dit is ‘n aardige gevoel as jy so uitkyk by die venster en al wat jy voor jou sien is ‘n bees se stert, pote en beesmis,” sê Oom Gert. Hy het die dooie bees sowat 50m saamgery op die bakkie se enjinkap, voordat dit afgegly het.
Skaars het die ongeluk plaasgevind, vertel Oom Gert, of ‘n voertuig met omtrent agt mede-Suid-Afrikaners stop by hom. Hulle was egter nie daar om hom te help nie…
“Van hulle ruk toe sommer kapmesse uit en wil die bees net daar in die pad begin slag. ‘But it is meat,’ deel die een my mee. Ek het vir hulle gesê hulle kan dit nie doen nie, want ek wag nog vir die polisie. Mens is nogal benoud as jy as bejaarde man-alleen daar langs die pad staan en agt omsingel jou met kapmense,” sê hy. Dit was toe dat hy sy seun, Andries, skakel vir hulp. Dié het daar aangekom net toe die polisie wou vertrek.
“Ek het vir hulle gevra of ons al die papierwerk kon afhandel en ‘n afskrif van die ongeluksverslag kon kry vir die versekering. Ek kon nie glo toe die polisieman vir my sê my pa moet R40 daarvoor betaal nie,” sê Andries.
Terwyl oom Gert en Andries gewag het vir die insleepdiens, het daar ook ‘n jong man op die toneel gestop.
“Ek het sowat vier maande gelede ook ‘n trop beeste geslaan, nie ver van hier nie. Ek was minder gelukkig. Met drie beeste dood en my bakkie letterlik in stukke, het ek amper ‘n maand in die hospitaal gelê met vier gebreekte ribbes en bloeding op my niere. Al my vingers was ook gebreek soos die stuurwiel dit teen die windskerm vasgeslaan het,” vertel die jong man. Hy en die boerdery vir wie hy werk het nou hofsake aanhangig oor die rondloperbeeste op dié pad.
Talle ander mense het ook op die toneel gestop, maar duidelik was hul belangstelling meer in die bees (vleis) as in oom Gert. Wat uiteindelik van die bees geword het, is onduidelik. ‘n Maatskappy wat klaarblyklik verantwoordelik is vir veiligheidsinstandhouding op die pad het daar gestop en sou die bees “na ‘n krokodilplaas” neem. “Maar of dit gebeur het, kan mens maar net oor wonder,” sê Andries.
Ten eindelaaste is Oom Gert en Andries, nadat die bakkie gelaai is, na die Morobeng polisiestasie om die “betaalde” afskrif te kry van die ongeluksverslag. “But the copies is not here. We must go to another place not far from here,” deel die einste polisieman die Van Zyls mee. So gesê, so gedaan en daar agtervolg hulle die polisieman na ander kantore naby ‘n plaaslike skool.
By die eerste kantoor is die polisiebeampte se vriend nie daar nie. Reg oorkant sy kantoor is daar nog ‘n kantoor waar ‘n vrou sit. “This is the supervisor,” sê die polisieman. Die vrou staan op, loer oor haar bril en na Oom Gert en Andries, stempel die ongeluksverslag en maak dan ‘n kopie daarvan wat sy aan Oom Gert gee.
“Steeds onder die indruk dat ek nou nog daarvoor moet betaal, vra ek haar toe waar ek moet betaal. Sommer dadelik sê die polisieman ‘No, you don’t pay for nothing’ en skielik is daar geen sprake van betaling nie,” sê Oom Gert en Andries voeg tong in die kies by: “Dit was maar seker net ‘n misverstand!”
Ongeag die trauma en drama van die ongeluk is Oom Gert dankbaar dat hy lewe. Wat hom egter hartseer maak, is die feit dat hy in Oktober vanjaar die finale paaiement op sy bakkie sou betaal het. Die bakkie is intussen afgeskryf deur sy versekeringsmaatskappy.
“Mens kry darem iets, maar eintlik verloor jy. Nou sal ek maar weer van vooraf moet begin om ‘n ander voertuig af te betaal,” sê Oom Gert.
Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles.

ADVERTISEMENT:
