

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 July 2013
Dit gaan sommer al baie beter met Dennis Smit, nadat hy sowat twee weke gelede in ‘n ernstige motorfietsongeluk betrokke was.
Dennis sterk tans tuis aan, nadat hy Saterdag, 6 Julie, ontslaan is. Hy is vir ‘n week lank in die hoësorgeenheid van ‘n Middelburgse hospitaal behandel vir erge kopbeserings wat hy opgedoen het. Sy motorfiets, ‘n splinternuwe BMW, is afgeskryf toe ‘n aankomende voertuig tromp-op in hom vasgejaag het. Die ongeluk het tussen Sabie en Middelburg plaasgevind.
Dennis was egter nie lank by die huis nie, toe moes hy weer besoek bring aan dokters en spesialiste in Johannesburg. Sy vrou, Jana, het vertel dat hy weens die ongeluk nog nie die volle gebruik van sy regteroog herwin het nie. Hiervoor moes ‘n neuroloog gesien word. Volgens die neuroloog het Dennis nog swelling en bloeding op die brein, wat met behandeling tussen vier en ses weke kan vat om gesond te word.
“Maar ons is dankbaar om Dennis weer terug by die huis te hê – dit is absolute gebedsverhoring,” het Jana gesê. “Hy lyk ook al heelwat beter; die bloukolle en skrape is al amper heeltemal gesond.”
Jana het almal bedank vir hulle gebede en boodskappe van ondersteuning. “Al wat Dennis nou kort, is baie rus.”
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
