

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 July 2013
Die warmer winterweer bring goeie vooruitsigte vir die komende landbouseisoen. Dit wil egter nie sê dat daar nie al ‘n paar bibber-dae was nie…
Op Saterdag, 13 Julie, het oggendasems in die dorp soos rookwolke uitgewalm. Ook geen wonder nie, want die kwik het gesak tot by vriespunt. In Julie sover het die minimum temperature in Makhado (Louis Trichardt) gewissel tussen vriespunt (0°C) en 6.7°C. Maksimum temperature het gewissel tussen 17.2°C en26.1°C (www.accuweather.com)
In die geheel is die winter egter warmer en boere koester goeie verwagtinge. TLU SA voorsitter Stephen Hoffman sê dat dit nog nie regtig koud was nie en dat die vooruitsigte vir al die sub-tropiese gewasse goed lyk. “Die winter was sag en het ons regtig goed behandel. Ons dra nie kennis van noemenswaardige skade nie. Die reëntjie van 7mm Donderdag [11de] het die stof weggewas en die bome is weer skoon,” het Hoffman gesê.
‘n Boer van Levubu, mnr. Dries Joubert, stem saam dat die avokado- en neutbome vanjaar goed lyk. “Die bome staan pragtig in blom en die blomme is gesond. Sover is die winter warmer as verlede jaar, maar ons weet nog nie wat die res van Julie gaan inhou nie. As daar koue saam met nattigheid is, veg ons teen swamme. Die watervoorsiening lyk goed en ek het nog nie van watertekorte gehoor nie. Dit lyk of die besproeiingswater voldoende sal wees,” het Joubert gesê.
In die Waterpoort-omgewing is dit sover warm en was daar nog geen rypskade nie, aldus die voorsitter van die Waterpoort Boerevereniging, mnr. Rudolph Otto. “Alhoewel dit die afgelope twee weke ‘n bietjie koelerig was, is die weerpatroon nader aan dié van die somer. Die groei van ons produkte is meer soos in ‘n semi-somerpatroon. Ons baba-groentes, suikermielies, spanspekke en tamaties, groei mooi vir winteromstandighede,” het Otto gesê.
“In Vivo is hulle besig om aartappels uit te haal en die geleentheid te benut vir ‘n vroeë gaping in die mark,” het Hoffman gesê.
Die voorsitter van die Linton Boerevereniging, mnr. Schalk van der Walt, sê dat koue hulle nie soseer raak nie, aangesien hulle in hul omgewing meer met wild en bees boer. “Die seisoene is net baie deurmekaar,” sê Van der Walt.
Volgens die weerburo is temperatuurvoorspellings in die volgende drie-maande tydperk onseker en minder akkuraat wat die minimum temperature betref, maar dit lyk of daar ‘n tendens is dat maksimum temperature vir die grootste dele van die land bo-normaal is.
Mnr. Cobus Olivier, ’n wetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Weerdiens en verantwoordelik vir navorsing oor weervoorspelling, het die drie-maandelikse voorspellings aangestuur. “Maksimum temperatuur voorspellings is bo-normaal vir die noordoostelike helfte van Suid-Afrika en onder normaal in die verre suidweste,” lui die verslag. Die diagram vir Julie, Augustus en September se maksimum temperatuur vooruitsigte wys dat Limpopo meer as 50% kans het vir bo-normale warm temperature in die dag. Diegene wat beter floreer in koue, moet dit dus maar nou waardeer, want skynbaar is die warm dae op pad ...
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
