

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 May 2002
MOPANE – "Honderde desperate vreemdelinge wat op pad is na nêrens, spoel oor die noordelike grens weens die feit dat die Zimbabwiese regering daardie land in 'n noodtoestand in regeer het.
"Dringende optrede deur die polisie en die weermag is nodig om die bedreiging af te weer wat hierdie mense vir die landelike gemeenskap noord van die Soutpansberg inhou."
'n Woordvoerder van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Gideon Meiring het so gereageer op 'n insident waar 'n vrou van Mopane Dinsdagoggend verras is deur 'n groep van sestien Zimbabwiese vreemdes wat in die veld digby die Mopane-treinstasie geskuil het.
Die vrou het alarm gemaak, waarop lede van die Mopane Boerevereniging 'n burgerlike arrestasie gedoen het. Lede van Soutpansberg Militêre Gebied (SMG) is in kennis gestel en die groep vreemdes is by Bokmakierie aan die weermag oorhandig ten aanskoue van 'n groot groep plaaslike arbeiders wat probeer werk bekom by die kontrakteur wat betrokke is by die opgradering van die N1 nasionale pad.
Mnr. Meiring, voorsitter van die Mopane Boerevereniging, sê die voorval is 'n tipiese voorbeeld van die probleem wat endemies is aan die gebied noord van die Soutpansberg.
"Sekerlik honderde desperate vreemdes wat op pad is na nêrens en wat kwaaddoen en steel om aan die lewe te bly veroorsaak 'n ernstige veiligheidsrisiko in die streek."
Skrywes oor die onbevredigende en onveilige situasie het vroeër vandeesmaand gelei tot telefoniese reaksie vanaf Generaal Sengani se kantoor.
Mnr. Meiring sê 'n amptelike gesprek het op 23 Mei tussen die Landbou-unie en die Area Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) op Thohoyandou plaasgevind. Die vreemdeling kwessie is in diepte bespreek met 'n afvaardiging gelei deur die voorsitter van die Zoutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Dries Joubert.
Die Area-Kommissaris het tydens die ontmoeting aangedui dat spesiale stappe gedoen sal word om die kwessie te probeer beredder. Daar sal onder meer gepoog word om meer lede van die SAPD beskikbaar te stel vir optrede teen vreemdes.
"Dank is ook uitgespreek teenoor die SANW (SMG) wat werklik poog om die probleem aan te spreek met beperkte fondse en vermoë tot hul beskikking," het mnr. Meiring gesê.
Intussen is ook 'n vergadering met mnr. Billy Masetla, die nasionale Direkteur-Generaal: Binnelandse Sake, belê om die situasie te bespreek.

ADVERTISEMENT:
