

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 July 2013
Wanneer Christen jongmense hierdie naweek in Makhado (Louis Trichardt) in ‘n georganiseerde projek onwettige aborsieplakkate langs die strate verwyder, gaan dit nie net oor die opruiming van iets wat steurend morsig en onooglik is nie.
Dié onwettige aborsie advertensies stel menselewens in gevaar. In Afrika sterf jaarliks nagenoeg 30 000 vroue weens onveilige aborsies en die lewens van 4,2 miljoen ongebore kinders word deur sulke aborsies beëindig. Die “skoonmaak-aksie” is dus inderdaad ‘n pro-aktiewe lewensreddingspoging.
Hierdie perspektief en skokkende statistiek oor aborsies in die algemeen het vandeesweek na vore gekom in gesprek met ds. Rudolf Botha, jeugpredikant van die NG Kerk Soutpansberg-gemeente, wat die straatskoonmaak-projek lei. Jongmense, hul ouers en selfs lede van die plaaslike stadsraad, onder die leiding van die burgemeester, het in die verlede al deelgeneem aan die projek.
Ds. Botha sê: “Vrye keuse tot aborsie is maar een van die dodelike sekulêr-humanistiese uitvloeisels van ons tyd. Sekulêre humaniste kry dit reg om hul gewetens te verkrag en te sê dat die vrou die alleenreg het om te besluit of sy haar ongebore baba wil aborteer, of nie. As sy wil, dan is daar ’n magdom klinieke, ander instansies en vele ander opsies waarheen sy kan gaan en dit móét gedoen word op haar versoek. In meeste gevalle word dit boonop deur die staat gesubsidieer!”
Hy sê sedert die wet op die keuse oor die beëindiging van swangerskap (Wet 92 van 1996) aanvaar is om aborsies te wettig, is meer as 700 000 “wettige” aborsies in Suid-Afrika gedoen. Ongeveer 9,2% van alle swangerskappe in Suid-Afrika word beëindig deur aborsie. Dit sluit spontane aborsies uit. 'n Kommerwekkende statistiek is dat 24% van alle aborsies na 12 weke gedoen word. Die risiko vir die doen van 'n aborsie verhoog na 12 weke. Volgens een kenner is daar laasjaar in een provinsie gemiddeld 1 000 elke maand gedoen. Dit kom neer op bykans 1 elke 10 minute. “Wat hierdie skokkende statistiek erger maak, is dat die meeste van hierdie aborsies is vir swangerskappe waar die ma tussen 12 en 18 jaar oud is. Nog meer – hierdie statistiek word bepaal deur die bekende aborsies wat wettiglik gedoen en gekontroleer is. Wat sou die syfer wees indien dit die onwettige aborsies ingesluit het?” Hy sê aborsie mag nooit as 'n vorm van geboortebeperking gebruik word nie. “Vicus Bürger en Selloane Khalane maak die logiese afleiding wanneer hulle meen dat aborsie die 'nuwe verslawing' is en sommige sensasiejagters nou aborsies ondergaan om hul lus vir opwinding te stil."
Ds. Botha sê: “Marx het gemeen dat godsdiens die ‘opium’ van die volk is. Het die samelewing dalk op die punt gekom waar dit nie meer die godsdiens is nie, maar eerder die sensasie daarvan om die wetgewing te manipuleer om ‘wettiglik’ teenstrydig met die godsdienstige norme op te tree?”
Op die vraag wat die Kerk te doen staan, sê Ds. Botha: “Die Amerikaanse kerke probeer al meer as 40 jaar om hulle wetgewing te skrap - sonder enige sukses. Derhalwe is die vraag eerder: Wat moet die kerk in Suid-Afrika doen as hy nie die wet kan omkeer nie? Die kerk sal sterk leiding moet gee oor verantwoordelike seksuele gedrag, veral vir ons jongmense.”
Die wet op die keuse oor die beëindiging van swangerskap is deur een navorser (Jane Harries van die Universiteit van Kaapstad) beskryf as “probably the most progressive abortion law in the world”. Maar, sê ‘n ander kenner (Stelle Ellis): “The promise of access, no matter how liberal, doesn’t necessarily translate into services that are available. In today’s South Africa, it is often faster and easier to get an illegal abortion than a legal one.” Sy voeg by in haar artikel wat verlede jaar geskryf is: “Girls under 18 accounted for ... more than half the total since abortion was legalised.”
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
