ADVERTISEMENT:

 

Oom Basie Botha, pas nadat sy katerak verwyder is. Hy word bygestaan deur dr. Anton Stroebel (links) en me. Sanrie du Plessis (regs).

Trane van blydskap

 

News  Date: 26 July 2013

 

Danksy die onbaatsugtige donasies van verskeie organisasies en ander privaat persone kan 11 mense nou weer die wêreld in die oë kyk.

Die Zoutpansberg Privaat Hospitaal in Makhado (Louis Trichardt) het dié donasies gekanaliseer en een van die streek se grootste liefdadigheidsprojekte op Mandeladag gefinansier. Me. Sanrie du Plessis, ‘n plaaslike oogkundige van SpecSavers, het meer vertel oor wat agter die skerms gebeur het en hoe die projek van 'n droom tot 'n werklikheid gevorder het.

Sy het oor die jare agtergekom, het Sanrie vertel, dat daar van haar pasiënte is, dikwels pensionarisse, wat sukkel met katarakte en verswakte sig. “Nie eens hulle kinders kon ‘n deel van die operasiekoste bybring nie,” het Du Plessis gesê. Die operasies wat almal ontvang het, het sowat R10 000 stuk gekos.

Dít was die dryfveer agter verlede week se massa veldtog. Sanrie het nog twee oogspesialiste, drs. Shaun Thompson van Tzaneen en Anri Weyer van Polokwane, genader om deel te word van die projek. Die Zoutpansberg Hospitaal is ook van die begin af genader om te help.

"En van daar het alles net in plek geval, en toe ons nog die teaterpakkies geborg kry, het die projek éérs momentum gekry." Die Zoutpansberg Privaat Hospitaal het nie net met Alcon Pharmaceuticals ooreengekom vir die borg van teaterpakkies nie, maar het ook hul fasiliteite en personeel gratis beskikbaar gestel om te help met die operasies.

Hierdie groot samekoms van oogartse en –spesialiste, dokters en verpleegsters het daartoe gelei dat daar uiteindelik 11 mense gehelp kon word om weer te sien. "Party van die mense het sommer begin huil toe ons vir hulle sê dat hulle gekies is om deel te wees van die projek," het Sanrie gesê.

Verlede Donderdag, nog voor die son behoorlik op was, was meeste van die pasiënte al ingeboek vir hulle operasies. Daar moet ook genoem word dat borgskappe vir medisyne en ander onkoste teen Donderdag nog steeds inbetaal is vir die projek.

Persone van verskillende agtergronde, rasse en geslagte is gekies vir die projek. Heelwat was plaaslik, maar daar was ook dié wat van Levubu, Tzaneen en Polokwane af gekom het.

Sommige van die pasiënte kon ook beter sien as ander, maar daar was dié soos oom Fanie Venter (83) en mev. Jabu Bheka (74) wat amper glad nie kon sien nie en afhanklik was van ander om hulle oë te wees. Bheka, wat van Tzaneen af kom, het sowat 20 jaar gelede haar regteroog verloor. Sedertdien het die sig in haar oorblywende oog weens katarakte so verswak dat sy nie op haar eie kon loop nie. Sy kon, net soos oom Fanie, die dag na die operasie self by die spreekkamers uitloop, sonder enige hulp.

Elke pasiënt se oë is voor Donderdag se operasies getoets en gemeet. Dit is gedoen sodat drs. Wyer en Thompson pasgemaakte lense vir elke pasiënt kon inplant nadat die katarak verwyder is. Pasiënte is Donderdag geopereer en moes die daaropvolgende dag teruggaan sodat die spesialiste kon kyk of al die katarakte suksesvol verwyder is.

Vrydag se reaksies by almal was ook heelwat anders as dié wat Donderdag waargeneem is. “Dit is dan helder,” was mev. Elsa Fogwell se reaksie toe sy weer kon sien. Bheka kon nie ophou glimlag nie. “Dis beter. Ek kan nou baie beter sien. Ek is baie bly,” het sy oor en oor gesê.

So was die trane en senuagtigheid van die vorige dag heeltemal vergete.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines