ADVERTISEMENT:

 

Die hond, 'n Labrador-kruising teef, het Woensdag verwese langs die boom gelê waar sy vasgevang was in ´n draadstrik.

Draadstrikke in Groengordel ‘n probleem

 

News  Date: 29 July 2013

 

Die probleem van onwettige jag in Makhado (Louis Trichardt) se "Groengordel" is die afgelope week weer in die kollig  geplaas, nadat twee honde in draadstrikke gevang is.

Die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) moes inspring en die honde bevry uit die strikke. ‘n Inwoner  wat in Rivierstraat bly, mnr. Hugo Stam, het die Zoutpansberger verlede Woensdag geskakel, nadat hy 'n tweede hond hoor tjank het in die veld oorkant sy huis. Hy was hoogs ontsteld, nadat hy die vorige dag reeds ‘n soortgelyke voorval gerapporteer het.

Dinsdag het DBV inspekteur mnr. Lawrence Khodobo en sy span ‘n swart reun bevry uit ‘n strik. “Jy moes sien hoe het daardie hond se bek gelyk soos wat hy probeer het om deur die draadstrik te knaag,” het Stam vertel. Die hond, wat volgens Khodobo ‘n Labrador- kruising is, het ook ‘n diep sny aan sy nek gehad.

Net die volgende dag moes die DBV weer uitkom. ‘n Tweede hond is in ‘n strik gevang, naby waar die eerste hond die vorige dag gered is.

Die hond, ‘n teef en ook ‘n Labrador-kruising, het verwese langs ‘n boompie gelê toe Khodobo met sy span daar opdaag. Sy moes die vorige aand of vroeg die oggend in die strik beland het, want daar was nie te ernstige wonde om haar nek nie.

Dit het gedurende die naweek aan die lig gekom dat beide honde die troeteldiere is van iemand wat in Forestryweg bly. Die eienaar se identiteit is bekend aan die DBV, maar is nie aan die koerant bekend gemaak nie.

Volgens Khodobo het hy die eienaar ‘n waarskuwing gegee om seker te maak dat sy honde binne sy erf bly. Khodobo sê die waarskuwing moes uitgereik word, nadat een van die honde Maandag weer ‘n keer in ‘n draadstrik gevang is in dieselfde bos. “Ons sal nou ‘n ogie hou op die eienaars,” het Khodobo gesê.

Intussen is die Makhado Munisipaliteit genader vir kommentaar rondom die probleem van draadstrikke in die Groengordel. Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het Dinsdag gesê dat die munisipaliteit “nie by magte of bevoeg is om te waak teen onwettige jag nie.”

“Ons [munisipaliteit] polisieer nie jag nie,” het Bobodi gesê. “Maar as sulke onwettige aktiwiteit onder ons aandag gebring word, sal ons die verantwoordelike departement waarsku. Ons kan nie die uitwissing van fauna en flora toelaat in die areas van ons dorp wat toeriste lok nie,” het Bobodi verder bygevoeg.

Hierdie laaste opmerking van Bobodi het as ietwat van ‘n verassing gekom, veral gesien in die lig dat dit reeds wyd bekend is dat die Groengordel, dié stuk oorkant Rivierstraat inkluis, reeds verlede jaar geoormerk is vir kommersiële ontwikkeling deur die munisipaliteit en die Limpopo Departement van Ekonomiese Ontwikkeling.

Bobodi wou nie verder op hierdie stelling uitbrei nie en het net gesê dat dit moeilik gaan wees vir die munisipaliteit om voorkomende maatreëls in plek te sit om onwettige jag in die area te bekamp. “Ek wil nie ingaan op die eienaarskap van die area nie,” het hy bygevoeg. Verdere navrae is deur hom na die plaaslike Departement van Omgewingsake verwys.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines