

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 May 2002
MESSINA – Probleme wat by die Messina hospitaal ondervind word, kry reeds 'n geruime tyd indringende aandag. Die werklike probleemarea in gesondheidsdienste op die dorp lê egter eerder by die disfunksionele kliniekdienste, wat buitengewone druk plaas op die beperkte kapasiteit van die hospitaal.
So het die voorsitter van die hospitaalraad, Ds. Christo Swanepoel vandeesweek gereageer op klagtes oor die situasie by die hospitaal.
Ds. Swanepoel sê die dood van die hospitaaldokter het dienslewering bemoeilik by die hospitaal wat reeds onredelike druk ondervind het weens die feit dat die klinieke glad nie meer hul funksie vervul nie. Hy sê die hospitaal het nog nooit oor 'n buitepasiënte-afdeling beskik nie en word nou oorval met primêre mediese sorg behoeftes, wat eintlik die verantwoordelikheid van die klinieke is. Die hospitaal lewer steeds 'n uitstaande diens aan daardie pasiënte wat wel gehospitaliseer moet word.
Die behoefte aan voltydse mediese personeel by die hospitaal geniet aandag. Intussen word die noodsaaklike mediese dienste vir sulke pasiënte gelewer deur alternatiewe reëlings met private geneeshere of mediese personeel van ander staatshospitale in die streek.
Die hospitaalraad sou vandeesweek die algemene bestuur en vorderingsverslae oor die aanvulling van die personeel in oënskou neem.
Die hospitaal op Messina bevind hom in 'n unieke situasie weens sy ligging langs die noordgrens van die land, die groot getal vlugtelinge, die omvang van Tuberkulose en Vigs en ondervoeding in die area. Dit alles skep 'n uiters ingewikkelde gesondheidsorgsituasie waarvoor 'n mens begrip moet hê, het Ds. Swanepoel gesê.

ADVERTISEMENT:
