ADVERTISEMENT:

 

Kabeldiefstal moontlik oorsaak van talle onderbrekings

 

News  Date: 20 June 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Talle ontydige kragonderbrekings het die afgelope week telkens die dorp tot stilstand gedwing, tot groot frustrasie van inwoners en sakelui.

Die kragonderbrekings het Vrydag (13de) begin en sedertdien het lede van die Makhado Munisipaliteit se Elektrisiteitsafdeling feitlik onverpoosd gewerk of die kragtoevoer weer te herstel. Vrydag se kragonderbreking is veroorsaak deur 'n fout op 'n 22kV ondergrondse kabel. Die rede vir die fout kon nie vasgestel word nie en kragtoevoer is tydelik herstel deur die toevoer te herlei via 'n industriële lyn. Die onderbreking het hoofsaaklik die noordelike deel van die dorp beïnvloed.

Ongelukkig het daar ook 'n fout op die industriële lyn ontstaan, wat veroorsaak het dat daar slegs enkelfase-kragtoevoer was. Weer moes die toevoer onderbreek word om die fout op te spoor en te herstel. Dié keer het die onderbreking die industriële en suidelike deel van die dorp geaffekteer. In totaal het die onderbrekings sowat drie en 'n halwe uur geduur.

Die Raad se teëspoed ten opsigte van kragonderbrekings het Dinsdag (17de) voortgeduur. Omstreeks 02:00 het 'n onderbreking voorgekom in Uitbreidings 1 en 7. By nadere ondersoek is daar vasgestel dat die 11kV kabel wat die gebiede, asook dele van die Sentrale Besigheidsgebied bedien, uitgebrand het. Die vermoede bestaan dat die kabel beskadig is, nadat iemand dit in die omgewing van die brug in Stubbsstraat probeer steel het. Die skade aan die kabel het ernstige probleme by die Stubbsstraat Substasie veroorsaak. Die kabel is vermoedelik beskadig deur dieselfde persone wat van Telkom se telefoondrade in dieselfde gebied gesteel het op dieselfde plek. Die diefstal van die telefoondrade het, buiten vir die ongerief van die ontydige kragonderbreking, tot gevolg gehad dat talle inwoners in die nuwe uitbreiding vir bykans twee dae sonder telefone was. Die substasie moes noodgedwonge afgeskakel word vir herstelwerk. Die krag is via verskeie ander invoerpunte herlei en, alhoewel onstabiel, tydelik herstel. Dinsdag om ongeveer 10:45 het 'n tweede kragonderbreking voorgekom. Weer was die 22kV kabel wat Vrydag se onderbreking veroorsaak het en die 11kV kabel wat vroeër die oggend se onderbreking veroorsaak het, die rede vir dié onderbreking. Weereens moes daar oorgeskakel word na ander invoerpunte en slegs 'n klein gedeelte van die Sentrale Besigheidsgebied se krag, asook dié van besighede en wonings in Burgerstraat, kon binne 'n uur herstel word. Die res van die dorp se krag is eers weer teen ongeveer 16:00 herstel.

Die Raad het om verskoning gevra vir die tydige en ontydige aan- en afskakel van die dorp se kragtoevoer. Dit, sê die Raad, was egter noodsaaklik aangesien die hele dorp se kraglading gedeel moes word tussen die nood-invoerpunte wat nie die vermoë het om die totale lading te hanteer nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines