

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 June 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Na twaalf jaar se bejaardesorg by Ons Tuiste, is dit met baie trane dat daar die einde van Junie van suster Ethel Myers, hoofverpleegkundige, afskeid geneem word.
Mev. Sannie Koekemoer, wat in die siekeboeg versorg word, sê dat sy en suster Myers al twaalf jaar lank die pad saam loop.
"Sy is met een woord 'n wonderlike mens. Daar is niks waarvoor daardie twee hande verkeerd staan nie. Van die pragtige gordyne het sy nou die afgelope paar maande met haar eie hande gemaak. Daar is niks wat sy doen wat sy nie perfek doen nie. Ek kan dit nie verwerk dat sy weggaan nie. Ek huil elke dag," sê mev. Koekemoer.
Op 1 Mei vanjaar het Ethel Myers al vir 46 jaar in die verpleegberoep gestaan. Haar algemene opleiding het sy in Bloemfontein ontvang en haar kraamopleiding in Springs. Sy het vir twintig jaar in die destydse Rhodesië verpleeg, waarvan twaalf jaar in diens van die weermag was. In 1980 het sy en haar man, Nevil Myers, na Suid-Afrika geëmigreer.
Suster Myers het op 1 Julie 1991 by Ons Tuiste begin as nagsuster. Dit het haar in staat gestel om bedags die huis in Andersonstraat te bou waar hulle steeds woonagtig is. Op 1 Oktober 1996 het sy die pos by Ons Tuiste aanvaar as bestuurder en hoofverpleegkundige. In daardie tyd was sy as bestuurder gemoeid met alle fondsinsamelings en verbeterings aan die tuiste. Sy dink terug aan die môremarkte waar die bejaardes pannekoek en handwerk verkoop het en die gholfdae ter stywing van die fondse.
"Die gemeenskap was nog altyd vir ons baie goed," sê suster Myers. Saam met die bestuurspos het sy as hoofverpleegkundige aan die hoof van die versorging van die bejaardes gestaan. Posteveranderings het in 2002 plaasgevind en vanaf 1 Julie 2002 is Ethel aangestel as hoofverpleegkundige op 'n jaar kontrak. Die kontrak verstryk op 30 Junie 2003 en is nie weer hernu nie. In haar kantoor is suster Myers al besig om haar persoonlike besittings op te ruim. 'n Foto van haar moeder, mev. Sally Biggs, kom te voorskyn.
"In my tyd hier was my moeder ook 'n inwoner. Sy is in 1999 op 94-jarige ouderdom oorlede." Sy stap in die gang af verby 'n foto van tannie Elsie de Bruin. "Tannie Elsie is tien dae voor haar 105de verjaarsdag in my arms dood," onthou suster Myers.
In haar dienstyd by Ons Tuiste het suster Myers ook 'n bejaardesorgkursus deurloop.
"Ek sal die bejaardes baie mis," sê suster Myers. Dat elke bejaarde vir haar spesiaal is en sy vir hulle, is duidelik uit die woorde van mev. Nellie Erasmus: "Ek beskryf suster Ethel as dierbaar en kwaai, maar so moederlik. Sy ken elke oumens en sy geskiedenis en kommunikeer met elkeen."

ADVERTISEMENT:
