ADVERTISEMENT:

 

Wyle Wonnie Erlank (62). Foto verskaf.

Oom Wonnie Erlank (62) oorlede

 

News  Date: 01 August 2013

 

Bekende sakeman mnr. Wonrea Erlank (62) is op 13 Julie oorlede in die Unitas Hospitaal in Pretoria, 15 dae voor sy verjaarsdag en 40ste huweliksherdenking.

Oom Wonnie, soos hy alombekend gestaan het in Makhado (Louis Trichardt), was ‘n stoere Soutpansberger. Hy is in Julie  in Unitas opgeneem waar hy ‘n knievervangingsoperasie ondergaan het. Morgie, oom Wonnie se vrou, het vertel dat die operasie ‘n sukses was. Oom Wonnie het, kort nadat hy sy fisioterapie afgehandel het, asemhalingsprobleme ontwikkel en is kort daarna oorlede.

Oom Wonnie is op 28 Julie 1951 in Messina gebore. Hier het hy sy laerskool- en hoërskoolloopbaan voltooi. Na skool het hy sy elektrisiënsambag by die destydse MTD-myn, of die kopermyn op Messina, geloop en voltooi. Gedurende hierdie tyd het hy vir Morgie ontmoet en is hulle op 13 Julie 1973 getroud.

Na die egpaar se troue het hulle vir ‘n kort rukkie in Potgietersrus (Mokopane) gewoon. Hierna het Wonnie en Morgie terug verhuis na Louis Trichardt waar Wonnie sy eenmansaak, ME Elektries, begin het. Hy het die besigheid tot en met sy afsterwe bedryf. Twee seuns, Jimmy en André, is uit die huwelik gebore. Beide die seuns bly tans saam met hulle gesinne in Nieu-Seeland. 

Wonnie was versot op rugby gewees en ‘n getroue Bloubul-ondersteuner. Hy was ‘n persoon, onthou sy seuns, met ‘n groot hart, ‘n plat-op-die-aarde mens wat hulle gerig en gelei het. “Hy het ‘n groot aandeel in die mense wie ons vandag is. Ons is trots om Erlanks te wees en as ‘n eggenoot, vader, oupa en vriend het hy ‘n groot leemte gelos met sy afsterwe,” het Jimmy en André gesê in ‘n brief vanuit Nieu-Seeland. 

Die gesin bedank almal in die gemeenskap wat hulle in hulle routyd ondersteun het. “Ek wil nie iemand uitlos nie, daarom sê ek net dankie vir almal se gebede en hulp,” het Morgie gesê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines