ADVERTISEMENT:

 

Van links na regs is Enock Mutuque (48) en Duminisani Baloyi (33) in die beskuldigingsbank tydens hulle vonnisoplegging in die streekhof in Makhado (Louis Trichardt) verlede Donderdag.

Renosterstropery buite beheer, sê landdros

 

News  Date: 01 August 2013

 

“Renosterstropery is buite beheer en neem astronomiese afmetings aan.” So het landdros Pat Cloete gesê tydens sy uitspraak waarin hy twee renosterstropers elkeen effektief ses jaar lank tronk toe gestuur het.

Duminisani Baloyi (33) en Enock Mutuque (48) is op 5 Mei vanjaar in die Phafuri-gedeelte van die Kruger Nasionale Park (KNP) voorgekeer en het aanvanklik vir die polisie probeer vlug. Tydens hul arrestasie is ‘n ongelisensieerde .458-jaggeweer, ammunisie, twee byle en twee renosterhorings in hulle besit gevind. Hulle is aangekla van die onwettige jag van ‘n beskermde spesie, die besit van ‘n onwettige vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

Beide het tydens ‘n vorige hofverskyning skuldig gepleit op al die klagte teen hulle. Volgens hulle regsverteen-woordiger het Baloyi en Mutuque ook addisionele inligting aan die polisie gegee oor die persoon wat hulle sou betaal om die renoster te skiet. “Hulle is jammer oor wat hulle gedoen het en het geleer dat misdaad nie betaal nie,” het die prokureur getuig.

Baloyi en Mutuque is glo elkeen R40 000 belowe vir ‘n suksesvolle jagtog.

Beide mans, wat van Mosambiek afkomstig is, het Donderdag (25ste) in die Streekhof in Makhado (Louis Trichardt) verskyn vir hulle vonnisoplegging. Tydens hierdie verskyning was daar al reeds 521 renosters regoor Suid-Afrika vermoor vir hulle horings.

‘n Spesialisgetuie wat ‘n omgewingsondersoekbeampte vir die KNP is, mnr. Mario Stolz, het dié statistieke ter strafverswaring vir die Staat aangehaal. Hy het verder getuig dat hy die vorige dag twee tonele waar renosters doodgemaak is, ondersoek het in die Mapungubwe Wêrelderfenisgebied.

Stolz het ook gesê dat daar na beraming nog 402 renosters voor die einde van die jaar uitgemoor kan word.

Cloete het in sy uitspraak Baloyi en Mutuque bedank dat hulle hul samewerking vir die polisie gegee het. Hy het bygevoeg dat die mans se gedrag laakbaar was, want niemand sal die renoster kan waardeer nie. “Hy is nou dood en vir ewig verlore vir ons kinders,” het Cloete gesê.

Buiten vir die ses jaar gevangenisstraf waartoe die mans gevonnis is vir die onwettige jag, is hulle ‘n verdere vyf jaar gevonnis op die klag van die onwettige vuurwapen en ‘n jaar tronkstraf vir die klag van die besit van onwettige ammunisie. Die laaste twee klagtes is saamgevoeg en sal samelopend met die eerste vonnis uitgedien word, wat beteken dat Baloyi en Mutuque effektief ses jaar gevangenisstraf ontvang het.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines