ADVERTISEMENT:

 

´n Groep van vier mans is aangekeer nadat hierdie dooie renoster in die Maremani Natuurreservaat aangetref is.

Verdagtes moontlik betrokke by ander onwettige strooptogte

 

News  Date: 02 August 2013

 

Vier vermeende renosterstropers wat vroeër in Julie aangekeer is, kan moontlik verbind word met nóg ander gevalle van renosterstropery.

Shumani Phaswana (47), Wilson Mavhungu (38), Thilivhali Mulaudzi en Michael Sithole (37) is op 13 Julie gearresteer in verband met ‘n renosterbul wat op die Maremani Reservaat (in die Musina-omgewing) afgemaai is vir sy horings. Hulle het op 15 Julie in die Musina Distrikshof verskyn op klagte wat verband hou met die jag van ‘n bewaarde spesie en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen. Die klag van die onwettige wapen hou verband met ‘n .458-jaggeweer wat in die mans se besit gevind is.

Volgens die polisie is die vier beskuldigdes aangekeer toe een glo na Maremani teruggekeer het hom ‘n tweede renoster te gaan  skiet. Met dié renoster gaan dit intussen goed en daar word verwag dat hy ten volle sal herstel. Volgens wat die Zoutpansberger kon verneem, het die koeël dwarsdeur die renoster getrek en was daar geen punt waarop die polisie ballistiese toetse kon uitvoer nie.  

Daar bestaan ook ‘n moontlikheid dat die vier mans verbind kan word  met ‘n voorval in die Nwanedi Natuurreservaat waar ‘n renosterkoei voor haar jong kalfie van kant gemaak is. Die kalfie, of Pemba soos hy nou bekend staan, is vir dood agtergelaat en later gered deur ‘n groep weldoeners. Hy is nou by The Rhino Orphange buite Mokopane.

Phaswana, Mavhungu en Mulaudzi is Suid-Afrikaners, terwyl Sithole van Mosambiek afkomstig is. Alvier het weer Dinsdag in die hof verskyn. Mulaudzi is vrygelaat, maar staan nog steeds tereg op ‘n ander klag van renosterstropery waarvoor hy op R1 500 borg vrygelaat is.

Teen druktyd was die hof nog in sitting en is daar nog nie ‘n nuwe uitsteldatum vasgestel vir Phaswana, Mavhungu en Shitole nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines