

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 August 2013
Na ‘n onaangename voorval is die kommunikasie tussen die Makhado Munisipaliteit en die Soutpansberg Belastingbetalersvereninging (SBBV) weer herstel.
Die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, het op 23 April nie die bestuurder van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, mnr. Phillip Olivier, ‘n geleentheid gegun om sy teenwoordigheid by ‘n rioolstorting te verduidelik nie. Die munisipaliteit het ‘n medianavraag oor die aangeleentheid op 9 Mei geantwoord deur te sê “Mnr. Olivier se teenwoordigheid was nie vir die munisipaliteit aanvaarbaar nie, aangesien hy geen rol gespeel het om die munisipaliteit bewus te maak van die rioolprobleem nie.” In dieselfde antwoord het die munisipaliteit klem gelê op die individu se reg om direk met die munisipaliteit te kommunikeer en nie die dienste van ‘n middelman of belangegroep (soos die SBBV of AfriForum) te gebruik nie. Olivier het egter al weke voordat die munisipale bestuurder persoonlik na die rioolprobleem kom kyk het, die munisipaliteit in kennis gestel van die probleem van een van die SBBV-lede by ‘n fabriek in die industriële gebied.
Intussen het Mutshinyali en Olivier die saak oor ‘n middagete op 17 Julie besleg. Op 22 Julie het hulle weer ontmoet. Hierdie keer was meer lede van beide partye teenwoordig. “Belangrike sake, soos die aanpassings (adjustments) wat gedurig op rekeninge verskyn en ander probleme wat dikwels by die SBBV aangemeld word, is bespreek. Hulle het onderneem om ‘n verduideliking van die verskillende soorte aanpassings op rekenings aan die media beskikbaar te stel. Daar is ook gesê dat watertenks op strategiese plekke in die dorp opgesit is,” sê Olivier.
Op hul beurt het die munisipaliteit by monde van hul woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê dat die munisipale bestuurder nooit die “kommunikasiedeur “ vir die SBBV of enige ander organisasie toegemaak het nie. Bobodi het bevestig dat daar ‘n vergadering met ‘n afvaardiging van die SBBV gehou is om die “billing system” duidelik te maak. “Die verhouding was nooit persoonlik nie en het sedertdien nie ‘n knou gekry nie en is gebaseer op gesonde, professionele werksetiek en nie op enige persoon se slegte of goeie gevoelens nie,” het Bobodi in ‘n e-pos gesê.
Die algemene verduideliking van hoe die aanpassings op die rekenings werk, sal na verwagting nog ontvang word. Menige inwoner het al die R190.20 (voorheen so R170) op rekeninge gekry sonder dat daar presies aangedui word waarvoor die aanpassings is.
Teen Maandag hierdie week was die watertenks nog nie op die bepaalde plekke ontplooi nie. “Ons het reeds die stellasies van die tenks voltooi, maar dit nog nie na die strategiese plekke geneem nie. ‘n Paar jaar gelede het ons 140 tenks ( 40 in die dorp en 100 in die buitewyke) geplaas en feitlik alles is gesteel,” het mnr. David Mukosi, munisipale watersuperintendent, gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
