

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 May 2002
LOUIS TRICHARDT – Die Minister van Nasionale Onderwys behoort in te gryp om die onhoudbare gedrag van die Universiteit van Venda teenoor professor Fanie Olivier te beëindig.
Prof. Olivier van die Universiteit van Venda is Sondagaand in 'n landwye radio uitsending geloof vir sy beginselvaste optrede.
In die weeklikse nuuskommentaar program oor die SAUK se RSG, is die mening gelug dat die Nasionale Minister van Onderwys behoort in te gryp om die Universiteit se onverdedigbare optrede teen Olivier te beëindig.
Die manier waarop die Universiteit prof. Olivier behandel is in die program vergelyk met die ewe onhoudbare optrede van die Gesondheidsowerheid in Mpumalanga teenoor Dr. Thys Van Molendorf in die Nelspruitse Provinsiale hospitaal. Dr. Von Molendorf is geskors omdat hy verwagtende vroue wat aan Vigs ly, behandel het met die middel wat die oordrag van die siekte aan hul babas kan verhoed.
Politieke kommentator Harold Pakendorf het in die program "Kommentaar" gesê hy kan nie begryp waarom die Ministers van Nasionale Onderwys en Nasionale Gesondheid nie ingryp in die twee sages om die betrokke owerhede tot orde te roep nie.
Oor die optrede van die Universiteit van Venda het Pakendorf gesê: "Die minister behoort die rektor van daardie universiteit in te roep en stadig aan hom te verduidelik waarom sy optrede heeltemal buite orde is."
Die Universiteit van Venda het onlangs openlik geweier om 'n hofuitspraak ten gunste van prof. Olivier te aanvaar, nadat sy dienste by die universiteit onregmatig beëindig is.
In Mpumalanga het die LUK belas met Gesondheid eweneens geweier om haar in die Von Molendorf sage te steur aan 'n Hooggeregshof uitspraak ten gunste van die toediening van die betrokke middel.

ADVERTISEMENT:
