

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 May 2002
LOUIS TRICHARDT - Christengelowiges in Suid-Afrika kan nie langer die blatante misbruik van die Godsnaam in die media, teaters, televisie en publikasies aanvaar nie.
Die goedkoop, beswadderende gebruik van dié Naam as 'n vloek- en kragwoord in populêre rolprente is heeltemal onaanvaarbaar en moet summier en ferm verwerp word.
Hierdie ondubbelsinnige standpunt is vandeesweek ingeneem deur die bekende evangeliese sanger-predikant Ds Jannie Pelser. Ds. Pelser het die reeks gesamentlike Pinksterdienste in die NG Kerk Soutpansberg behartig.
Hy het Sondagaand, aan die begin van die reeks dienste, 'n landwye veldtog bekend gemaak, waarin Christene kan meehelp om openlik standpunt teen hierdie ernstige misbruik in te neem.
Hy het tydens die diens, wat goed bygewoon is, verwys na die sinnelose, blatant-beledigende ydellike gebruik van die Godsnaam in rolprente, oor die radio en televisie en in publikasies.
Ds. Pelser het die belangrike beduidenis van name beklemtoon en 'n ernstige beroep op alle Christene gedoen om hul persepsie rondom die Godsnaam op te skerp en die eerbiediging daarvan onwrikbaar te handhaaf.
"Wanneer die naam: Jesus Christus gebruik word, kom die Hemele in beweging," het hy gesê.
Hy het 'n beroep op Christene gedoen om ernstige stappe te neem om die naam in ere te hou. Christene sal elke denkbare strategie, soos om teaters nie weer te besoek nie, moet gebruik om hul standpunt oor te dra.
'n Landswye veldtog onder die opskrif "Jesus, Name above all names (Groot bo almal)," is nou aan die gang. Lyste waarop Christene hul name kan aanbring om hul steun aan die veldtog te betuig, word nou landwyd versprei.
Op die lyste word voorsiening gemaak vir telefoon- en faksnommers van die ondersteuners, sodat strategieë aan hulle gekommunikeer kan word.

ADVERTISEMENT:
