

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 May 2002
LOUIS TRICHARDT – Die onlangse verkoop van die Ben Lavin Natuurreservaat aan die Manavhela-gemeenskap het die afgelope paar weke kommer laat ontstaan dat die reservaat nie meer in besigheid is nie.
Die reservaat, geleë net suid van Louis Trichardt, is op 13 April tydens 'n spesiale seremonie aan die Manavhela-gemeenskap teruggegee na 'n suksesvolle grondeis op die plaas. Reeds in 'n vroeë stadium het die Wild Life and Environment Society of South Africa, aan wie die grond behoort het, te kenne gegee dat hulle nie 'n eis sal teenstaan indien dit aanhangig gemaak word nie. Die transaksie het ondermeer behels dat die reservaat as 'n lopende bedryf hanteer sal word met slegs 'n wysiging in die bestuur en naam daarvan. Tans staan die reservaat bekend as die Manavhela Ben Lavin Natuurreservaat.
Die huidige voorsitter van die reservaat, mnr. Peter Menné, het die afgelope week sy kommer uitgespreek oor die feit dat talle inwoners onder die indruk is dat die reservaat nie meer bestaan nie. Hy het die versekering gegee dat die reservaat steeds soos voorheen voortgaan met sy bedrywighede en dat hulle heelwat ontwikkelingsplanne in die vooruitsig stel. Dit sluit in uitbreidings ten opsigte van akkommodasie vir groepe mense soos skoolgroepe, historiese dorpies waar die kulturele diversiteit van die streek uitgebeeld word en 'n uitgebreide ontbossingsprojek.
"Die Manavhela Ben Lavin Natuurreservaat is steeds oop vir die publiek en doen besigheid soos voorheen," sê mnr. Menné.

ADVERTISEMENT:
