ADVERTISEMENT:

 

Dit is hoe die munisipale skouterrein Maandagoggend daarna uitgesien het na afloop van die laaste skoudag op Sondag. Die terrein was ook besaai met leë drankbottels en –blikkies, stille getuienis van die “lekker” partytjie wat skougangers daar geniet het.

Geraas frustrasie

 

News  Date: 09 August 2013

 

Die jaarlikse Makhado Skou, of “geraas-naweek” soos sommiges daarna verwys, het die afgelope naweek weereens vir ‘n slapelose nag gesorg.

Die geraas wat jaarliks met die skou gepaard gaan, is reeds welbekend aan inwoners. Soveel so dat talle inwoners reeds voor die naweek aangedui het dat hulle eerder vir die naweek sal weggaan as om wakker te lê en luister na die oorverdowende musiek.

Daar was egter optimisme dat vanjaar se Makhado Skou heelwat rustiger sou wees as vorige jare en in ‘n mate was dit wel so, veral die eerste twee dae van die skou, verlede Donderdag en Vrydag.

In aanloop tot die skou het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi verlede week gesê dat hulle vanjaar baie streng gaan wees ten opsigte van geraas en harde musiek. Hy was egter skepties of daar by die munisipale voorskrifte gehou sou word ten opsigte van open- en sluitingstye en geraasvlakke. “Kom ons hoop,” het hy gesê.

Sy hoop het egter beskaam en, soos vorige jare die geval was, is daar Saterdag weer deur die nag tot feitlik dagbreek Sondagoggend oorverdowende musiek gespeel, met geen ontsag vir inwoners nie.

Die frustrasie wat hierdeur veroorsaak is, is mooi saamgevat in ‘n brief aan die Zoutpansberger van ‘n Indiër-inwoner van Eltivillas wat direk grens aan die skouterrein (sien die brieweblad vir die volledige brief). Daar moet in gedagte gehou word dat die Moslem-gemeenskap tans besig is met hul heilige maand van Ramadan. Die inwoner skryf dat die skou-organiseerders na ‘n sielkundige inrigting gestuur moet word om hul koppe te laat nagaan. Hy verwys ook na vorige jare waar soortgelyke frustrasie met die harde musiek ervaar is en die feit dat daar altyd na die tyd om verskoning gevra word, met beloftes [van beide die organiseerders en munisipaliteit] dat die situasie hom nie weer sal herhaal nie. “... wie de hel soek hulle verskoning as hulle duidelik en blatant dieselfde ding doen hierdie jaar!” skryf die leser. Hy gaan so ver as om te sê dat die skou-organiseerders toegesluit moet word, sodat hulle kan leer om respek te hê vir inwoners.

Met Sondag as heilige dag vir die Christengeloof, het die lawaai ook die plaaslike Christen-gemeenskap die harnas ingejaag. Ds. Robbie Novella, lid van die plaaslike Leraarsforum, gee toe dat die skou ‘n gemeenskapskou is en jaarliks aangebied word. “Dit is kommerwekkend dat hulle egter nou ook die skou verleng het na Sondag sonder dat daar, na my wete, enige kennisgewing was of geleentheid vir mense om beswaar aan te teken. Ons weet nie wie die skoukomitee is nie en of hierdie komitee die regte prosedures gevolg het nie,” sê ds. Novella. Hy sê die harde musiek deur die nag is duidelik ‘n groot frustrasie vir inwoners, en spesifiek die inwoners van die nabygeleë ouetehuis en Eltivillas. Volgens ds. Novella is die naweek se lawaai, spesifiek op Sondag, reeds as ‘n besprekingspunt op die agenda geplaas tydens hul volgende vergadering op 13 Augustus.

Ten opsigte van ds. Novella se verwysing dat daar geen kennisgewing was oor die voorgestelde verlengde duur van die skou tot Sondag en ook geen geleentheid vir inwoners om beswaar aan te teken nie, is die Zoutpansberger in besit van dokumentasie met betrekking hiertoe. Onder 'n briefhoof van die Makhado Munisipaliteit is ‘n interne memorandum om 9 Julie aan onder meer die munisipale bestuurder gesirkuleer waarin pertinent genoem word dat die logistieke reëlings ten opsigte van die skou in die plaaslike media geadverteer moet word. Die memorandum maak ook melding van die open- en sluitingstye van die skou wat ook geadverteer moet word. Verlede Vrydag het ‘n munisipale verkeersbeampte ook by die kantore van die Zoutpansberger opgedaag met ‘n munisipale skrywe, gerig aan die organiseerders van die skou, wat dit duidelik stel dat alle harde musiek en aktiwiteite streng om 02:00 elke dag van die skou moet staak. Dit het nie gebeur nie en was weereens bewys van die Makhado Munisipaliteit se onvermoë om hul eie reëls en regulasies toe te pas.

Wat die interne memorandum betref, het die Zoutpansberger die Makhado Munisipaliteit onder meer gevra om kommentaar te lewer oor waarom ‘n kennisgewing van die verlengde skou en tye nooit gepubliseer is nie? Hulle is ook gevra waarom die munisipaliteit nie opgetree het toe die lawaai Sondagoggend die voorgeskrewe tyd oorskry het nie?

Nodeloos om te sê, is ‘n redelik “standaard” antwoord ontvang, sonder dat enige van die vrae werklik beantwoord is. Bobodi het Woensdag per e-pos geantwoord: “As ‘n munisipaliteit wil ons hê dat mense ten alle tye moet gehoor gee aan die reëls, regulasies en ooreenkomste. Maar, ons sal ondersoek instel om te bepaal wat het gebeur.”

Woensdagoggend is mev. Kittie de Bruin van Ons Tuiste Ouetehuis ook gevra om kommentaar te lewer oor die naweek sa lawaai.

“Hier waar ons sit, het ons handdoek ingegooi! Jy probeer en probeer, maar hulle luister net niks en gee gehoor aan niks,” sê De Bruin. Sy sê dat in al die jare is hulle nog nooit die kans gegun om enige inset ten opsigte van die skou te lewer nie.

“Buiten vir die gewone inwoners, was die lawaai veral traumaties vir die inwoners in die siekeboeg. Hulle het regtig gedink daar is onrus en hulle word aangeval,”  sê De Bruin. Sy voeg egter by dat hulle darem die situasie kon bestuur en hanteer.

“Mens moet maar aangaan en wag vir volgende jaar [se skou],” sê De Bruin.

(Die organiseerders van die skou is ook genader vir kommentaar, maar teen druktyd is daar nog op ‘n antwoord van hulle gewag)

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines