ADVERTISEMENT:

 

Generic Image

Moenie onkant gevang word deur BBBEE

 

News  Date: 12 August 2013

 

Verby is die dae waarin maatskappye ‘n front kon voorhou as ‘n swart ekonomies bemagtigde (BEE) maatskappy.

Wysigings aan die BBBEE (Broad-Based Black Economic Empowerment) Wet 53 van 2003, is op 21 Junie in die parlement ter tafel gelê.

Daarvolgens sal ‘n kommissie klagtes oor die gebruik van “frontpersone” kan ondersoek. Die skoonmaker of tuinier sal dus nie meer vir die skyn die uitvoerende hoof van die maatskappy kan wees nie. Maatskappye het egter baie meer gesofistikeerde maniere ontwikkel om ‘n skyn voor te hou.

“Die Codes for Good Practice of kodes gee gestalte aan die BBBEE Wet en bevat die reëls en kriteria waarvolgens punte toegeken word aan besighede op hul BEE-telkaarte en waarvolgens ‘n erkenningsvlak toegeken word aan ‘n bepaalde besigheid,” verduidelik mnr. Ferreira Nel, senior vennoot van Nel, Havinga en Corbett Geoktrooieerde Rekenmeesters in Makhado (Louis Trichardt).

Volgens die departement van handel en nywerheid was daar nie in die afgelope 10 jaar, sedert die ontstaan van die wet, genoeg vordering gemaak ten opsigte van die doelwitte van die wet  nie. Die wysigings het ten doel om die leemtes wat geïdentifiseer is aan te spreek. 

Een van die leemtes was dat dit te maklik vir besighede was om goeie BEE-telkaarte te behaal. Nog ‘n leemte was dat daar voorheen grys areas in die kodes bestaan het. Dit het gelei tot verskillende interpretasies en inkonsekwente toepassing deur verifikasie-agentskappe. Verder was BBBEE nie tevore deur alle regeringsdepartemente afgedwing nie, maar dit is nou verpligtend. Die verifikasie-agentskappe was ook swak gereguleer en dit het vrae oor die kredietwaardigheid van BEE sertifikate laat ontstaan.

“Verder is die hulp van die ouditeursprofessie ingeroep om die kredietwaardigheid van die verifikasieproses (die toekenning van telkaarte en uitreiking van BEE-sertifikate) te herstel, deurdat individuele firmas nou geakkrediteer kan word hiervoor,” sê Nel.

Hoe raak die wysigings op die wet die besigheidsman? “Wysigings aan die kode kan sekerlik die BBBEE-status van besighede raak, aangesien die doelpale nou verskuif word. Die punte wat voorheen behaal is, sal dalk nou nie meer behaal kan word nie!” sê Nel.

Nel sê voorts dat dit nie verpligtend vir enige besigheid is om aan die BBBEE Wet te voldoen nie en dat BBBEE nie noodwendig gepaard gaan met ‘n belang van swart persone in die eienaarskap van ‘n besigheid nie. “Die strenger afdwinging deur alle sektore van die Staat gaan egter ‘n rimpel-effek deur die besigheidsektor hê en indirek druk via verskaffers en kliënte op besighede plaas om goeie BEE-telkaarte te hê. Die strenger kodes gaan dit egter moeiliker maak om hierby uit te kom,” sê Nel.

Die besigheidsman kan aanvaar dat BBBEE gekom het om te bly. BEE telkaarte is vir 12 maande geldig en word gebaseer op geskiedenis en op gegewens van wat in die afgelope finansiële jaar plaasgevind het.

“Spreek dit vroegtydig aan en kry advies indien nodig. Bestuur dit soos enige ander aspek van jou besigheid en verhoed dat jy onkant betrap word. Pro-aktiewe optrede kan aan jou ‘n groot voordeel bo ander besighede gee,” sê Nel.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines