ADVERTISEMENT:

 

Op die Julie-rekening wys die R1 800 wat oorbetaal is. Die verbruiker is egter steeds aangeskryf vir die volle verbruik van die twee maande volgens die nuwe glyskaaltariewe. Die totaal van die rekening vir Julie was dus meer as R4 000!

Nuwe glyskaaltariewe gaan talle duur kos

 

News  Date: 12 August 2013

 

Sommige inwoners se kragrekenings vir Julie het reeds vir ‘n groot skok gesorg. By ander se rekenings het die glyskaaltariewe nog nie in werking getree nie.

Die rede vir die skok is dat die Makhado Munisipaliteit maandelikse lesings oorgeslaan het, met die gevolg dat daar meer eenhede op die volgende rekening verskyn en die verbruiker dan vir meer eenhede teen die hoogste tarief op die glyskaal aangeslaan word.

Met die nuwe finansiële jaar wat op 1 Julie begin het, het die Makhado Munisipaliteit verhoogde elektrisiteitstariewe ingestel. Volgens die begrotingstoespraak van die burgemeester, rdl. David Mutavhatsindi, is die verhoging 7%.

Met die glyskaal en die feit dat maandelikse lesings oorgeslaan is en “gebêre” is vir die nuwe maand, het een inwoner se verhoging meer as 40% beloop.

Die elektrisiteitsverbruik word op ‘n glyskaal bereken en aangeslaan.  Die eerste 50 kilowatt eenhede word op 67c bereken (wat laer is as verlede jaar se 85,61c per eenheid). Die volgende 300 eenhede word aangeslaan teen 85c per eenheid (ook ‘n rapsie laer as laasjaar se tarief). Die volgende 250 eenhede word teen R1.14 per eenheid bereken (‘n styging van 25%) en dan alles daarbo teen R1.36 per eenheid (‘n styging van 37%).

Die laer tariewe by die eerste twee kategorieë sal verbruikers van 350 en minder kilowatt per maand aanspoor om onder daardie perk te bly, sodat hulle kan baat by ‘n verlaagde tarief. Diegene wat meer as 350 en veral meer as 600 eenhede gebruik, gaan egter les opsê.

Die onregverdigheid kom egter daarby in dat verbruikers se maandelikse lesing nie geneem word nie en hulle die volgende maand vir “dubbele” eenhede aangeslaan word.

“Indien daar op jou vorige maand se rekening  nie ‘n lesing vir elektrisiteit was nie en jy dus nie vir elektrisiteit gefaktureer was nie, stoot dit jou nuwe lesing ver in die hoë-tarief drempel in,” sê mnr. Herman Smith.

Smith is vir Julie aangeslaan vir 1542 eenhede. Volgens die nuwe tariewe is dit 50 eenhede teen R0.67 per eenheid, wat gelyk is aan R33.50. Die volgende 300 eenhede kos R0.85 per eenheid  en  beloop R255. Die derde kategorie eenhede kos R1.14 vir 250 en beloop R285.00. Die volgende 942 eenhede kos R1.36 en kom te staan op R1 281.12. Die totaal van die kragrekening is dus  R1854.62. Volgens die ou tariewe van ‘n eenvormige bedrag per eenheid van R0.8561 sou hierdie rekening  R1 320.11 gewees het. Die verskil is R534.51, wat ‘n verhoging van 40.5% verteenwoordig.

Nog ‘n inwoner het in Juniemaand geen elektrisiteitslesing gehad nie en ‘n totale rekening van R363 ontvang. Die verbruiker het egter R1 800 oorbetaal. Groot was sy misnoeë om op die Julie-rekening te sien dat die munisipaliteit die R1 800 aanvaar het, maar steeds die volle verbruik van die twee maande volgens die glyskaaltariewe bereken het. Die Julie-rekening was meer as R4 000!

Indringende vrae oor die nuwe glyskaal waarvolgens die nuwe elektrisiteitstariewe bereken word, is aan die munisipaliteit gestel. Teen druktyd het hierdie vrae steeds onbeantwoord gebly.

“Die idee agter die glyskaaltariewe is goed. Die munisipaliteit moet dit egter net reg implementeer!” het ‘n ander inwoner, mnr. Louis Linde, gesê.

Mnr. Jaap Kelder van die Nasionale Belastingbetalersunie se raad aan inwoners is dat waar meer as een maand se verbruik op ‘n rekening verskyn, die munisipaliteit versoek moet word om die korrekte berekening te doen.  “U betaal dus net ‘n geskatte bedrag wat redelik is en verklaar ‘n dispuut oor die balans,” sê Kelder.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines