

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 May 2002
MESSINA – 'n Glips met die identifikasie van 'n klein slangetjie het pynlike gevolge gehad vir natuurliefhebber Hannie James. Aanvanklik is selfs gevrees dat sy dalk haar vinger kan verloor as gevolg van dié ligte mistasting.
Mev. James, 'n onderwyseres aan die Laerskool Messina, is nou weer terug op haar pos in die klaskamer, nadat sy 'n pynlike paar dae in die hospitaal moes vertoef. Die vinger is besig om mooi te herstel.
Die pynlike ervaring het begin kort nadat 'n tuinhulp, wat weet van haar belangstelling in die natuurlewe, 'n slangetjie in 'n bottel aan haar besorg het.
Mev. James, wat as stokperdjie slange identifiseer, het die klein slangetjie aanvanklik aangesien as 'n olyfkleurige huisslangetjie – 'n slangsoort wat heeltemal onskadelik is.
Sy het dit uit die bottel verwyder en was besig om dit reg te sit om 'n foto te neem, toe die klein kalant skielik tot verdediging oorgaan. Dit het haar skrams aan die punt van haar middelvinger bygekom met een van sy giftandjies.
Mev. James het haar aanvanklik nie veel daaraan gesteur nie, maar later, gedurende die nag, besef daar is groot fout.
"Dit was 'n skerp, polsende brandpyn wat net nie wou bedaar nie en die vinger het ook geweldig begin swel."
Sy is na die hospitaal gebring waar noodbehandeling dadelik begin het.
Die "onskuldige" slangetjie is geïdentifiseer as 'n sypik adder - 'n gevaarlike, giftige kalant. Hoewel sy gif nie dodelik is vir die mens nie, veroorsaak dit weefselskade en lei dit dikwels tot die verlies van ledemate, weens die ernstige beskadiging van liggaamsweefsel.
Wat het toe verder van die klein molesmaker geword?
"Ons het hom daar anderkant die plaashek gaan loslaat, sodat hy maar kan doen wat hy veronderstel is om in die natuur te doen, sonder om enigiemand te pla," sê mev. James met 'n goedige glimlag.

ADVERTISEMENT:
