ADVERTISEMENT:

 

Klein André kort nadat dr. Richard Schmidt wonderbaarlik daarin kon slaag om hom weer by te bring. Met sy aankoms by dr. Schmidt se spreekkamer was André reeds blou, yskoud en sonder enige hartklop of asemhaling. Foto verskaf.

Wonderwerk het klein André van dood gered

 

News  Date: 19 August 2013

 

In ‘n wêreld waar nuus van wonderwerke met suspisie begroet word, is daar geen twyfel in die Theron-gesin van Musina se gemoed dat ‘n wonderwerk hul 18-maande-oue babaseun se lewe gered het nie.

“Klein André was dood en is deur God vir ons teruggegee …” So sê Maryna, die seuntjie se ouma. Sy het Dinsdag met die Zoutpansberger gepraat oor die gebeure van Sondag, 23 Junie, wat nie net hulle as gesin nie, maar die hele Musina-gemeenskap geruk het.

“Dit het nou al ‘n rukkie terug gebeur en ek het nie geweet of moet ek dit instuur [vir die koerant] of moet ek nie. Toe het ek my dagstukkie gelees en my dagstukkie het vir my gesê ‘God praat deur jou … vertel vir die mense’. Toe het ek besef ek moet, al is dit bietjie laat,” sê Maryna.

Die storie begin waar klein André vermis geraak het. Sy ma, Claressa, stuur toe André se sussie, die 13-jarige Zoné, om na hom te gaan soek. Sy vind hom waar hy in die middel van die swembad dryf, en toe die uitroep - ‘n ouer se ergste vrees - “My boetie is dood! My boetie is dood!”

Almal het na die swembad gehardloop, met Zoné wat onmiddellik ingespring en haar boetie uit die water gehaal het.

Ma Claressa het dadelik mond-tot-mond asemhaling begin toepas. Die bure het ook die uitroep gehoor en omgehardloop om te kom help. Maryna het dr. Richard Schmidt se spreekkamer vooruit geskakel en minute later is klein André, toe reeds blou, yskoud en met geen hartklop of asemhaling nie, in sy ma se arms deurgejaag spreekkamer toe.

By die spreekkamer aangekom, het dr. Schmidt en suster Martie Rossouw dadelik met noodbehandeling begin.

“Almal het net aangehou bid. Na 'n tyd wat soos 'n ewigheid gevoel het, het klein André begin asemhaal en huil,” sê Maryna.

Tog was André se toestand steeds kritiek. Hy is per noodhelikopter na Polokwane gevlieg, waar medici hom gestabiliseer en in ‘n diep slaap gesit het, voordat hy oorgeplaas is na die hoësorgeenheid van die Garden City Hospitaal in Johannesburg.

“In Johannesburg het hulle sy hele liggaam [met ‘n spesiale pakkie] verkoel … hulle het hom koud gehou om die brein te beskerm teen skade. Dit het hulle gedoen vir drie dae,” sê Maryna.

Na drie dae is daar gepoog om klein André, steeds in ‘n diep slaap en aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel, wakker te maak. Toe die terugslag …

“Na die derde dag het hulle hom begin wakker maak, maar hy het twee keer ophou asemhaal en hy het heeltemal blou geword … hy kon nie self asemhaal [sonder die hulp van die masjiene] nie …” sê Maryna.

Weer is klein André in ‘n diep slaap geplaas, steeds gekoppel aan die asemhalingsmasjien. Dag vier is daar weer probeer om hom wakker te maak, maar weer het hy ophou asemhaal sonder die hulp van die masjiene.

“Die vyfde dag het dit eers gewerk dat hy self normaal kon asemhaal ... Hulle het hom op ‘n ligter longmasjien gesit. Hy kon asemhaal saam met die masjien,” sê Maryna.

Klein André is kort daarna ontslaan. Buiten die wonderwerk dat hy oorleef het, was daar nog ‘n wonderwerk – geen breinskade nie!

“Hy is tuis met sy oulike klein krulkoppie en sonder enige breinskade of newe-effekte. Ons kan nie die Here genoeg dank, loof, en prys vir sy groot liefde en genade aan ons nie,” sê Maryna.

Klein André het ‘n nie-identiese tweelingboetie met pa Michiel se naam. Maryna vertel dat André altyd die sterker van die twee was, maar dat sy boetie vinnig opgetel het dat hy bietjie minder sterk was ná die traumatiese gebeure. “Ná die ongeluk was hy vir ‘n lang tyd van balans af, as gevolg van vog op die oordromme. Hy kon ‘n rukkie loop dan gaan sit hy of hy val om … Sy boetie het dit definitief waargeneem, want die oomblik as hy sien sy boetie stap so 'n bietjie, dan kom hy langs hom [André] en stamp hom om,” sê Maryna met ‘n lag in haar stem.

Vir die jong Zoné was die gebeure eweneens traumaties. “Aanvanklik was sy baie geskok, maar ons het haar onmiddellik die heldin gemaak. Ons het vir haar gesê sy is ‘n heldin, want sy het ingespring en haar boetie gaan help. Ja, sy het nagmerries gekry, maar ons het haar na ‘n sielkundige gevat wat vir haar berading gegee het,” sê Maryna.

Soos enige mens maar soms in die geloof twyfel, sê Maryna dat hulle ook maar getwyfel het. “Ja, ons was baie, baie positief gewees tot hulle hom die eerste keer probeer wakker maak het … hulle het vir ons gesê dat dit misluk het … dit was vir ons almal ‘n krisistyd gewees en ons was almal weer 'down in the dumps'. Maar ons het bly glo, want ons het hierdie ding in ons kop gehad, en wat almal ook vir ons gesê het: Die Here het ‘n wonderwerk laat plaasvind en Hy doen nie halwe werk nie,” sê Maryna.

Oor wat die hele voorval vir hulle as familie beteken het, sê Maryna: “Dit het absoluut ons geloof versterk, heeltemal! Waar ons nog enigsins partykeer getwyfel het, weet ons net daar is absoluut ‘n God. Hy is genadig, liefdevol en Hy kan wonderwerke laat plaasvind! … dit was vir ons ‘n lewenservaring wat niemand kan betwyfel nie.”

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines