

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 August 2013
Die hoofde van die Suid-Afrikaanse weermag en die lugmag is nou besig om daadwerklik in te gryp om 'n oplossing te vind vir die duur kragkrisis by die Lugmagbasis (LMB) Makhado.
Die hoof van die weermag, genl. Solly Shoke, is besig met onderhandelings om samesprekings tussen die betrokke departemente aan die gang te kry, met die oog op 'n spoedige oplossing van die probleem. Intussen word die hoof van die lugmag, lt-genl. Fabian Msimang, eersdaags weer by die basis verwag, waar hy terugvoer aan gesinne in die Braambos residensiële gebied by die basis sal gee.
Dié hoëvlak ingryping kom nadat die hantering van die voortgesette kragkrisis by LMB se Braambos residensiële gebied besig was om te ontaard in 'n ernstige skandaal, met verreikende gevolge vir die operasionele gereedheid van dié strategiese basis. Gebrek aan doeltreffende tussen-departementele kommunikasie, nalatigheid en skynbaar ook blatante oneerlikheid is bestanddele van die skandalige hantering van dié aangeleentheid.
Herstelwerk aan die hoof kragtoevoer sloer steeds voort, nadat dit in die laaste helfte van verlede jaar onderbreek is deur 'n ontploffing. Die ontploffing is volgens berigte veroorsaak deur 'n gebrek aan deeglike instandhouding deur die Departement van Openbare Werke (DOW). Die departement is verantwoordelik vir die fisiese instandhouding van infrastruktuur op die basis.
In 'n amptelike verklaring deur die DOW, wat in Maart vanjaar by navraag aan die Zoutpansberger uitgereik is, is beweer dat daadwerklike optrede reeds deur die departement op die basis aan die gang is. Luidens die verklaring sou die herstelwerk sowat drie maande duur en teen 'n koste van nagenoeg R9 miljoen uitgevoer kon word.
Die basisbestuur het indertyd ten sterkste ontken dat daar enige daadwerklike inspeksie of ander aksie deur verteenwoordigers van die DOW by die basis aan die gang was. Die bestuur het ook ontken dat hulle al enige inligting van die departement ontvang het oor stappe om tenders voor te berei en om 'n kontrakteur aan te wys om te begin met die herstelwerk.
Die DOW wou daarna by herhaalde versoek nie reageer op die bestuur se ontkenning van die departement se bewering nie.
Intussen het die departement se beweerde beraamde voltooityd reeds verstryk, met nog steeds geen aanduiding van enige vordering met die herstel van die hoof kragtoevoer na die basis se Braambos residensiële gebied nie.
Die skokkende finansiële implikasies van die DOW se gebrek aan doelmatige optrede blyk uit die mededeling dat bloot die bedryfskoste van die tussentydse noodkragopwekking met mobiele diesel kragopwekkers reeds meer as drie keer die oorspronklike beraamde koste van die herstelwerk beloop. Tot op hede bedra bloot die dieselkoste reeds meer as R30 miljoen! Dit vermeerder steeds met meer as R1 miljoen per maand, wat verhaal moet word uit die lugmag se begroting. Laasgenoemde is reeds só besnoei dat van sy duur vegvliegtuie bruikloos geberg moet word. Dit het weer tot gevolg dat noodsaaklike praktiese insette in die opleiding van vlieëniers agterweë bly en die instandhouding van vlieëniers se bevoegdheid en die langtermyn diensbaarheid van die duur vliegtuie in die gedrang gebring word. Dit het uiters ernstige negatiewe implikasies vir die lugmag se operasionele gereedheid.
Vandeesweek is bevestig dat genl. Msimang reeds die basis teen die einde van verlede maand besoek het om homself persoonlik te vergewis van die toedrag van sake. Die moontlikheid bestaan dat die lugmag nou self die herstelproses sal hanteer, na afloop van die nodige onderhandelings met die DOW. Msimang het onderneem om die komende vergadering van die basis se gesinsforum by te woon.
Weens die aanvanklik algehele gebrek aan amptelike optrede ten opsigte van die krisis, wat al die gesinne in die woongebied by die basis ontwrig, het die 235 gesinne, met 1100 gesinslede, ten einde raad tydens 'n gemeenskapsvergadering in Junie 'n individuele plaaslike forum in die lewe geroep om hul belange te behartig. Gesinslede het reeds lyste saamgestel van die skade wat hulle berokken is en kostes wat hulle moes aangaan weens die nalatigheid van die owerheid. Die inligting sal benodig word in beoogde regsaksie teen die owerheid. 'n Regsverteenwoordiger is reeds aangestel om die moontlik regstappe namens die inwoners te hanteer.
Adv. Francois van Zyl, wat die opdrag ontvang het om namens die gesinslede op te tree, het vandeesweek by navraag bevestig dat die forum eersdaags vergader om verdere optrede te oorweeg. Volgens Van Zyl is verskeie lede van die DOW, teen wie regsaksie oorweeg is, intussen van hul dienste onthef. Verdere aksie sal nou in die lig van die veranderde omstandighede oorweeg moet word.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
