ADVERTISEMENT:

 

Hard besig om te help om Makhado (Louis Trichardt) se strate te suiwer van die onooglike onwettige aborsie-plakkate. Voor is Marno van Zyl (NG Kerk Soutpansberg Jeug). Agter, van links na regs, is Natalie Mushesi en Zelmarie Briers, beide Graad 7-leerlinge van Laerskool Louis Trichardt en leerlingraadslede, en Minette Louw, Graad 10-leerling by Hoërskool Louis Trichardt en lid van die Heartfelt-groep.

Kinders neem standpunt teen onwettige aborsies

 

News  Date: 16 August 2013

 

'n Jeugprojek wat aanvanklik begin het as 'n gereelde skoonmaakaksie deur die NG Kerk Soutpansberg Jeug het intussen ontwikkel in ‘n gestruktureerde teen-reaksie teen aborsie.

Die jeuggroep was op Vrouedag,  9 Augustus, weer in talle strate in Makhado (Louis Trichardt) te sien waar hulle onwettige aborsie plakkate en ander onsmaaklik reklame van lamppale en verkeerstekens afhaal.

Hierdie keer was hulle egter nie alleen nie, met lede van Laerskool Louis Trichardt se leerlingraad en Graad 10-leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt wat ‘n groot deel van hul vakansiedag opgeoffer het om te kom help. Die Graad 10-leerlinge, oftewel die Heartfelt-groep, het die aksie ondersteun as deel van die lewensoriënteringsprojek wat hulle gekies het, met aborsie as tema.

Met die aanvang van Vrydag se skoonmaakaksie het ds. Rudolph Botha, jeugleraar van die NG Kerk Soutpansberg, eers aan die kinders en jongmense agtergrondinligting verskaf rondom aborsie in Suid-Afrika. Hy het hulle onder meer gevra of hulle geweet het dat aborsie in Suid-Afrika wettig is, waarna hy kortliks verduidelik het onder watter omstandighede aborsies wel gedoen mag word. Die kinders is ook kortliks vertel wat onwettige agterstraat aborsies behels en hoe lewensgevaarlik dit vir vroue en jong meisies is. Ds. Botha het gesê dat plaaslike onwettige aborsies hoofsaaklik chemiese aborsie deur middel van pille is. Hy het verwys na drie jong vroue waarvan hy weet wat hulself doodgebloei het nadat hulle hul ongebore babas geaborteer het.

“So, bo en behalwe dat dit die vernietiging van die babatjie se lewe is, is dit die vernietiging van jong vrouens se lewens. Wanneer ons dus die plakkate afhaal, is dit nie net omdat ons wil skoonmaak nie, maar dit is ‘n definitiewe teen-reaksie om te sê ons is teen aborsie. Ons stem nie daarmee saam nie, dit vernietig lewens, beide die baba en die ma s'n. In baie gevalle gaan die ma en doen die aborsie sonder dat die pa daarvan weet. So vernietig dit ook verhoudinge. Dit het baie verreikende gevolge,” het ds. Botha gesê.

Bogenoemde agtergrondinligting is aan die kinders gegee, sodat hulle toegerus sou wees om navrae te beantwoord wanneer hulle deur inwoners gevra sou word waarom hulle die plakkate afhaal. Hierna het die kinders in 10 groepe vir bykans drie ure hoofsaaklik strate in en om die sentrale sakegebied skoongemaak. Vir meeste was dit ‘n unieke ervaring.

Een groep het na die tyd genoem dat hulle deur ‘n verpleegster voorgekeer is. Nadat hulle haar vertel het waarom hulle die plakkate verwyder, het die verpleegster hulle gelukgewens met die inisiatief en ook foto’s van fetusse gewys wat geaborteer  is. Dit was vir hierdie groepie ‘n lewensveranderende ervaring. ‘n Ander groep het gerapporteer dat hulle navrae ontvang het om ook die projek na ander dorpe uit te brei.

Soortgelyke skoonmaakaksies word reeds deur die NG Kerk Soutpansberg in die nabye toekoms beplan. Intussen sal die Heartfelt-groepe eerskomende Saterdag, 17 Augustus, saam met AAA-bediening (Anti-Abortion & Aids) onder leiding van mev. Hester Beukes, help met ‘n videovertoning wat handel oor die ware feite van aborsie. Inwoners is welkom om die vertoning by te woon wat om 15:00 by die Hope Restoration Bible Church in Siloam begin.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines