

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 August 2013
“Wat hierdie twee meisies gedoen het, is verby enige iets wat jy nog halfpad kan probeer regverdig van wat by ‘n skool kan gebeur.”
Dit was Dinsdag mnr. Henry Denner, hoof van Hoërskool Louis Trichardt, se reaksie op die barbaarse aanranding van ‘n skoolmeisie deur twee van haar klasmaats verlede Donderdagoggend op die skoolterrein. Die vuisslanery het plaasgevind tydens ‘n af studieperiode op die skoolpaviljoen. Al drie meisies is in Graad 8 en in dieselfde klas. Daar was geen onderwysers om toesig te hou nie, want die twee wat daar moes wees was toevallig beide op kampe saam met die skool se LUK en Graad 9 veldskoolleerlinge.
Talle skoolkinders het die geveg op hul selfone afgeneem. Die videogreep wys hoe die meisie wat aangerand is op haar rug met haar kop op ‘n tas lê. Voor en agter staan twee ander meisies. Die een voor haar skreeu luidrugtig: “Jy’s ‘n f#@kop! Jy’s f*@#op!” Dit onder luide toejuiging van klasmaats wat die situasie aanpor met ‘n geskreeu van: “M@#r mekaar! M@#r mekaar!” Die volgende oomblik trek die een meisie los met herhaalde houe in die gesig van die meisie wat op die grond lê. Laasgenoemde keer vir al wat sy werd is, maar slaan nie terug nie. Dan gryp die slanertjie se vriendin die tas agter die meisie op die grond se kop uit, lig dit omhoog, en gooi die tas met geweld in die meisie op die grond se gesig. Dit blykbaar tot groot vermaak van die ander kinders, met niemand wat die meisie op die grond help of die geveg probeer stopsit nie.
Die aangerande meisie se ma het met die aanvanklike nuus van die aanranding nie gedink dit is so erg nie – op die meeste ‘n stamp of stoot. Sy het egter ontplof van woede toe ‘n vriendin vir haar die videogreep stuur. Later dieselfde dag het sy haar dogter gevat vir ‘n mediese ondersoek, wat bevind het dat daar sagteweefsel skade aan haar gesig was. Sy moes ook traumaberading kry. As ‘n kind wat altyd nie kon wag om by die skool te kom nie, was dit ook vir haar ma ontstellend erg om te sien dat dié opgewondenheid na die voorval verdwyn het en sy Maandag nie by die skool uit die motor wou klim nie.
“Sy het vir my gesê sy wil nie uit die kar uit klim nie, want ‘Ek is bang ... ek is baie, baie bang mamma’ ... uit ‘n ma se hart dink ek die vernedering was vir haar die ergste,” het die ma Maandag gesê.
Die ma sê sy voel definitief dat skole nie genoeg doen om kinders teen hierdie tipe geweld en boelies te beskerm nie. Sy sê sy voel haar hande is afgekap om iets te doen, omdat die kinders minderjarig is. “Met hierdie nuwe kinderwet kan jy niks, niks, niks doen nie!” het sy gesê. Tog het sy steeds ‘n klag van aanranding teen die twee meisies gaan lê by die polisie.
“Ek sê vir jou hierdie goed begin by die huis. Geen dissipline,” sê die ma. Beide sy en Denner is daarvan oortuig dat die aanranding vooraf beplan was, aangesien al die kinders reggestaan het met hulle selfone om die geveg af te neem.
Denner het hom sterk uitgespreek oor die voorval. “Enige vorm van bakleiery is nie aanvaarbaar nie, maar die uiterste waarna hierdie ding gegaan het, is definitief glad nie aanvaarbaar nie,” het Denner gesê en bygevoeg dat hulle bakleiery by die skool redelik onder beheer het en dat bakleiery tussen meisies min voorkom. “In my tyd hier is dit min of meer die ergste voorval. Jy het nou al die normale paar vuishoue gehad, maar nie op hierdie manier nie, en dit nog van meisies,” het Denner gesê.
Wat die skool se optrede betref, het Denner gesê dat die skool onmiddellik opgetree het binne die raamwerk van wat die wet hulle toelaat. “Daar was geen formele dissiplinêre verhoor gehou nie. In ‘n saak soos hierdie, in terme van ons gedragskode, kan jy onmiddellik die straf van sewe dae skorsing effektief maak. So, in terme van die gedragskode het ons hulle onmiddellik geskors en daarmee saam het hulle 'n finale waarskuwing gekry dat as ons weer enige so ‘n tipe van ernstige oortreding kry, dan gaan ons met die proses van permanente uitsetting [uit die skool] begin met hulle twee,” het Denner gesê.
Oor die ma van die aangerande meisie se bekommernis dat skole nie genoeg doen om kinders te beskerm nie weens ‘n gebrekkige strafstelsel, het Denner gesê: “Dit is ‘n ding wat oor die jare al baie gedebatteer is. Die feit van die saak is nog steeds dat enige stelsel beter is as geen stelsel. Ten minste kan jy ‘n mate van beheer uitoefen, omdat jy ‘n stelsel het,” het Denner gesê.
Die kwessie rondom skoolboelies en hoe die skool hierdie boelies hanteer, is ook aangeroer.
“Soos wat kinders na jou toe kom en soos wat personeel kinders uitwys, hanteer jy hulle. As dit nodig is, dan verwys ons hulle, of as dit nodig is, kry ons die ouers in. Hier het al baie ouers oor hierdie tipe van goed in my kantoor gesit ... maar dit is ‘n gegewe en iets waarvan jy nie kan wegskram nie. Die belangrike ding is, jy moet dit aanspreek so vroeg as wat jy kan,” het Denner gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
