ADVERTISEMENT:

 

Wyle oom Willie de Swardt (74). Foto verskaf.

Hartseer ná nuus van Oom Willie se skielike dood

 

News  Date: 22 August 2013

 

Die Soutpansberg het met hartseer verneem van die skielike dood van oom Willie de Swardt (74) op 7 Augustus.

Oom Willie en sy vrou, tannie Hermien, het skaars ‘n maand gelede uit Makhado (Louis Trichardt) verhuis na Krugersdorp waar hulle by familie gebly het.

Baie inwoners sal oom Willie onthou vir die vriendelike glimlag op sy gesig met 'n ringnekpapegaai op sy skouers.

“Juis die oggend van sy dood het ek nog gedink ek wil my pa weer bel, want sy ringnek is die vorige week dood en ek wou hoor hoe gaan dit,” sê oom Willie se seun, Riaan. Hy sê sy pa se gesondheid was die laaste tyd maar bietjie sleg.

“Net die vorige dag is hy en my ma dokter toe vir ‘n roetine ondersoek. Die dokter was tevrede met my pa, maar was bekommerd oor my ma se bloeddruk. Hy het haar toe op nuwe bloeddrukmedikasie gesit,” sê Riaan.

Oom Willie, wat oorspronklik vanaf Krugersdorp afkomstig was waar hy geboer en in die transportbedryf was, het in die laat 1990’s vanaf Pretoria na Makhado (Louis Trichardt) verhuis. Hy het al destyds met die familie se verhuising na Potchefstroom en later Pretoria as eiendomsagent opgetree. In Makhado (Louis Trichardt) het hy vir etlike jare sy werskaamhede as eiendomsagent voortgesit en later met sy vragmotor transport gery vir die meule. Later moes hy weens gesondheidsredes dié bedrywighede staak. Hulle het teen die einde van Julie na Krugersdorp terug verhuis.

“Die dood is die enigste sekerheid in die lewe, maar dit bly maar moeilik vir ons as familie,” sê Riaan.

Wyle oom Willie word oorleef deur sy vrou, seuns Jaco, Riaan en Morné, skoondogter Elize en sy twee kleinkinders, Ryno en Suné. Hy is Dinsdag, 13 Augustus, vanuit die NG Kerk Suiderlig-gemeente in Krugersdorp begrawe. Die diens is waargeneem deur ds. Rudolph Botha van die NG Kerk Soutpansberg-gemeente.

Die familie het hul dank uitgespreek teenoor almal wat hulle ondersteun het met boodskappe van medelye en vertroosting in hul tyd van hartseer, veral vanuit die Soutpansberg-gemeenskap. Hulle het ook ‘n spesiale woord van dank gerig aan ds. Botha vir die ekstra moeite wat hy gedoen het om die familie by te staan.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines