

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 August 2013
‘n Onwelkome gas het sy intrek geneem in die Soutpansberg-streek.
Dit is nou te sê die Kaapse heuningby. Byeboere in die streek het vandeesweek dié nuus aan die groot klok gehang. Ten spyte van talle waarskuwings, sê die boere, is daar sowat vier maande gelede lêende Kaapse werkerbye op die plaas van mnr. Quintin Otto waargeneem. Dié bye is glo afkomstig van besmette korwe uit die suide van Suid-Afrika.
Die nuus is nie net onrusbarend vir plaaslike byeboere nie, maar ook vir gewasprodusente, veral dié in die Levubu-vallei. Volgens mnr. Charlie Gerber, wat die griewe gelug het namens al die kontrei se byeboere, veroorsaak die Kaapse-by die totale ineenstoring van die Afrika-bykolonies in wilde sowel as bestuurde swerms.
Dit gebeur gewoonlik, verduidelik Gerber, wanneer die Kaapse-by se werkers by ‘n Afrika-swerm intrek. Omdat die Kaapse werkerby kan eiers lê, het dit die gevolg dat die Afrika-by sy eie koningin sal doodmaak en die Kaapse-by as sy nuwe koningin aanvaar.
Ongelukkig kan die nuwe “vals” koningin nie die swerm in stand hou nie en dit het tot gevolg dat die Afrika-swerm geleidelik uitsterf en net die Kaapse-bye oorbly. Hierdie swerm infiltreer ander gesonde swerms en sit so die bose kringloop voort, totdat daar wening Afrika-bye oor is.
Maar ‘n by is tog ‘n by en sal steeds sy omgewing bestuif, of hoe? Gerber sê nie noodwendig nie. Die Kaapse-by is glad nie aangepas om te aard in die noordelike dele van Suider-Afrika nie. Die bye sal dus ook later uitsterf en daar sal geen bye wees vir bestuiwing óf heuningproduksie nie.
Gerber, en ander byeboere, het ‘n beroep gedoen op die samewerking van gewasboere in die omgewing om die omvang van die besmetting te bepaal.
“Ons moet die omvang van ons probleem kan bepaal, sodat ons voorsorg kan tref om die besmetting te probeer stuit,” het Gerber gesê. Tans, sê Gerber, maak die meeste boere in die omgewing gratis gebruik van byeboere se dienste. Daar is egter van die plaaslike boere wat byeboere van elders af huur en sodoende word Kaapse besmette swerms in die streek ingebring. “Onskuldige en bedagsame boere gaan nou gestraf word vir die ondeurdagte dade van ander.”
Gerber sê die enigste manier om die besmetting te voorkom, is om soveel moontlik van die besmette swerms op te spoor en te vernietig. ‘n Vinnige toets wat boere kan doen om te bepaal of hulle swerms besmet is, is om tweeweekliks kaste na te gaan. Kaapse-werkerbye is byvoorbeeld geheel en al swart, terwyl die Afrika-by geel en swart is.
Op die heuningkoek self, sal boere opmerk dat nie al die “selletjies” gevul is nie en dat die werkerby ‘n klompie eiers in die selletjie lê. Die Afrika-by se koningin lê net een eier per selletjie.
As enige iemand vermoed dat hulle ‘n besmette swerm op hul plaas het, is hulle welkom om enige van die volgende mense te skakel: Hendrik Kelly (082 416 8528), Chris James (083 289 3099), Charlie Gerber (082 661 7966), of Mervin Wiggill (072 110 7908).
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
