

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 August 2013
Een van die legendes van die verre noorde van Suid-Afrika, bekende skilder en skrywer, oud-burgemeester en -prokureur Petrus (Piet) Hendrik Carel de Vaal (90) het na ‘n kort siekbed die tuig op 15 Augustus finaal neergelê.
Die gemeenskap treur saam met die familie dat ‘n reuse kremetartboom inderdaad gesterf het.
As skilder is Piet de Vaal bekend as “meester van die kremetartboom” en laat hy meer as 100 kunswerke agter. Een van sy vyf dogters, Inarié (van Johannesburg) het ‘n besonderse album saamgestel met kleurafdrukke van oom Piet se kunswerke. Inarié onthou met deernis hoe haar pa voor sy huis in President Steynstraat gesit en skilder het en sy die verfkwassies skoongemaak het.
Volgens dogter Milda Stanton van Pretoria, straal die grootste liefde vir die Soutpansberg uit sy ongeëwenaarde kunswerke van die bosveld en sy kremetartbome. “Dit is nie moeilik om die vergelyking tussen pa en een van hierdie bosveldreuse raak te sien nie: hy maak sy stelling stil en statig, is een met sy omgewing en dra by tot die betekenis en skoonheid daarvan. Hy dwing gesag af, maar nie sonder daardie kenmerkende sagtheid wat die kremetartboom se buitelyne afrond nie. Belangrikste van alles: hy laat hom nie verplant nie. Waar hy geplaas is, sal hy vas bly staan omdat hy daar hoort en glo dat hy met ‘n doel daar geplaas is,” skryf Milda in haar voorwoord van ‘n publikasie van oom Piet se vertellings. Die boek Die dorp Louis Trichardt het in 1986 uit oom Piet se pen verskyn en het vanjaar ‘n tweede druk beleef. Oom Piet skryf dat die doel van dié boek is om ‘n “bydrae te lewer in kultuurvorm tot die bekendstelling van ons dorp en sy veelbewoë maar tog interessante verlede.”
Oom Piet de Vaal was ‘n boorling van die Soutpansberg in murg en been. Hier gebore op 19 Maart 1923, het hy by Hoërskool Louis Trichardt tot standerd 8 skoolgegaan en gematrikuleer aan die Pietersburgse Hoërskool, omdat Louis Trichardt in daardie stadium nog nie matriek aangebied het nie. Hy begin in 1941 werk as leerling-klerk by die prokureurs Rooth en Coxwell op Louis Trichardt. As prokureur behartig hy vir twee jaar die firma se kantore in die destydse Messina, maar na mnr. Rooth se dood in 1952, kry hy die adjunk-baljupos in Louis Trichardt en begin sy eie prokureurspraktyk, wat hy tot en met 1985 bestuur.
Oom Piet het op talle rade gedien, insluitend beheerrade van drie skole, die kerkraad en die hospitaalraad. Hy was ‘n stigterslid van die Soutpansberg Sakekamer en die Rapportryerskorps. “Hy het vreeslik baie vergaderings gehad om by te woon en was ‘n baie harde werker,” onthou sy oudste dogter, Linette van der Merwe, wat plaaslik woon. Van 1958 tot 1962 was oom Piet ‘n raadslid van die Louis Trichardt Stadsraad en vir amper drie jaar was hy die burgemeester van die dorp. In daardie tyd was daar nog septiese tenks en nagkarre. As burgemeester het rdl. De Vaal hard gewerk om die rioolskema van die dorp te vestig en water vanaf die Albasinidam aan te lê.
Tussendeur het oom Piet geboer op die plaas Goedehoop, net oos van die oorspronklike Goedewensch van die pionier Joao Albasini. Die De Vaals is aangetroude familie van die Albasini’s. Dogter Caromin Louw van Engeland onthou haar pa se liefde vir diere en hoe hy met sy beeste gekommunikeer het asof hulle kinders was. “My pa het stoute ape wat vrugte gesteel het, in hokke gevang, lank vir hulle 'gepreek' en dan weer losgelaat!” vertel Caromin.
Piet de Vaal is op 28 Desember 1946 in die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente getroud. Sy bruid, Marietjie (Maria Isabella), het hom na 56 jaar se getroude lewe ontval. “Die laaste hoorbare woord wat hy geuiter het, was ‘Isabella’, my 10-jarige dogter se naam. Ek sal hom onthou vir sy wysheid, lojaliteit, nederigheid, eerlikheid en opregtheid,” sê sy laatlam, Pétria.
Wyle Piet de Vaal laat vyf dogters, 11 kleinkinders en vier agterkleinkinders na. Sy roudiens word op Saterdag, 24 Augustus, om 15:00 deur dr. Philip Venter waargeneem in die NG Kerk Soutpansberg, waar oom Piet vir 53 jaar gemeentelid was.
Lees ook Dr Suwil Rudolph se brief oor oom Piet.

ADVERTISEMENT:
