ADVERTISEMENT:

 

Verdagte in moordsaak eers terug na Zimbabwe

 

News  Date: 17 May 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Alle aanklagte teen die 27-jarige Dennis Moyo van Zimbabwe, die man wat daarvan verdink word dat hy in Maart vanjaar die 51-jarige mnr. Rudi Schmidt op sy plaas vermoor het, is Donderdag (9de) in die plaaslike landdroshof voorlopig teruggetrek.

Die rede vir die voorlopige terugtrekking van die saak is dat die polisie nie die regte prosedure gevolg het ten opsigte van die uitleweringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Zimbabwe nie. Moyo is kort na die moord op mnr. Schmidt deur lede van die SAPD se Ernstige Geweldsmisdaadeenheid en die Zimbabwiese polisie by Sezani, sowat 140 kilometer noord van die Suid-Afrikaanse grens, gearresteer.

Moyo is na sy verskyning in die hof verlede week na Zimbabwe teruggeneem. Dit is nie seker of hy in hierdie stadium in aanhouding is nie. Hy sal na alle waarskynlikheid na Suid-Afrika teruggebring word vir verhoor, sodra 'n nuwe uitleweringsooreenkoms gefinaliseer kan word.

Mnr. Schmidt en sy vrou, Corlia, is in die vroeë oggendure van 11 Maart in hul woning op die plaas Tuscanon aangeval. 'n Worsteling het ontstaan tussen mnr. Schmidt en die aanvaller, waartydens mnr. Schmidt noodlottig gewond is. Moyo is minder as 'n week later aangekeer. Ten tye van sy arrestasie is verskeie klein items in sy besit gevind wat hom met die moord verbind het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines