

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 August 2013
‘n Hartklepoperasie kan die lewe red van ‘n jong hartlyertjie van Makhado (Louis Trichardt).
Die 10-jarige Corlanie de Vries, wat by geboorte met pulmonale klep stenose gediagnoseer is, se ouers is vanjaar gewaarsku dat sy dringend ‘n nuwe hartklep moet ontvang. Corlanie se toestand is ‘n vernouing van die hart se pulmonêre klep, wat veroorsaak dat die bloed nie behoorlik van haar regter hartventrikel na haar longe vloei nie. Derhalwe ontstaan daar ‘n suurstof tekort in Corlanie se liggaam.
Corlanie is gebore met 'n hartklep wat vernou is en moes sy reeds op die ouderdom van vier maande haar eerste operasie ondergaan, sodat die vernouing in haar regterhartventrikel “gerek” kon word met ‘n mediese ballon. Ongelukkig het Corlanie se kleppie heeltemal geskeur en het sy nie meer die gebruik daarvan nie.
Die vernouing in die hartventrikel het ook veroorsaak dat die spierweefsel van haar hart verdik het en ‘n aansienlike groot spasie in die hartkamer opneem. In 2006 moes Corlanie weer ‘n operasie ondergaan, waarin daar ‘n gedeelte van dié verdikte weefsel uitgehaal is.
Intussen het die weefsel weer aangegroei, soveel so dat ‘n hartklepvervanging nou lewensnoodsaaklik geword het vir Corlanie.
Haar ouers het egter nie ‘n mediese fonds nie en die klep, wat ingevoer moet word van oorsee af, kos sowat R300 000. Die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria het reeds aangebied om Corlanie se operasie uit te voer en al haar hospitalisasiekostes te dra, mits haar ouers ‘n plan kan maak om die klep te betaal.
Derhalwe is Corlanie se ouers tans besig om ‘n hulpfonds te stig om die klep te bekom.
Intussen moet Corlanie ook ‘n koronêre stent-inplanting kry vir die vernouing. Dié inplanting is egter nodeloos as ‘n kleppie nie verseker is nie.
Vir verdere navrae oor Corlanie se hulpfonds kan Mariaan geskakel word by 079 113 8150 of haar pa, Gert, by 076 020 5249.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
