ADVERTISEMENT:

 

Name van verandering waai oor dorp

 

News  Date: 17 May 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Voortgesette ongelukkigheid oor die eensydige naamsveranderings-kwessie was hierdie week weer aan die orde, nadat nuwe naamborde in Trichardtstraat aangebring is met die naam Songozwi daarop.

Die naam Trichardtstraat is voor die naweek met swart sakke toegedraai, waarna die swart letters asook die swart sakke vroeër die week heeltemal verwyder is.

"Die naam Songozwi is saamgestel uit sungu wat beteken om in te gaan en nzwii wat donkerte beteken," verduidelik prof. Koos van Rooy, bekende Bybelvertaler en kenner van Venda. In kort beteken die nuwe straatnaam om in die donkerte of in 'n grot in te gaan.

Trichardtstraat het verwys na die Voortrekkerleier, Louis Trichardt. Hy was 'n nie-politiese leier, wat deur al die verskillende bevolkingsgroepe gerespekteer is en dikwels gevra is om as vredemaker in geskille op te tree.

Mnr. Peter Magwala, sekretaris van die burgemeester noem dat Songozwi die naam van die paleis van die monarg Makhado by Hanglip was en dat dit tans die naam van'n dorpie is wat uit 45 wonings bestaan.

"Dit is onbillik om ou name weg te neem wat by die omgewing pas. Nuwe uitbreidings behoort egter Venda name te kry," sê mnr. Ben Holtzkamp, voormalige Distriksbestuurder van die Ontwikkelingsraad wat vir 33 jaar in verskillende rade nou saam met die Vendas gewerk het.

"Die straatname is vernoem na ou raadslede, amptenare en mense wat die dorp gedien en sien groei het," sê hy. Mnr. Holtzkamp, wat op Hanglip grootgeword het, se bydrae in die gemeenskap is erken deurdat meer as een straat in die streek na hom vernoem is. Hy het ook eerstehands ervaar dat die straatnaam in Tshikota, Holtzkamp Avenue, net spoorloos verdwyn het.

"Ek het die flambojantbome in daardie straat nog uit my sak aangekoop. Toe ek weer sien, is die naambord weg."

Kommandant Piet Moller- en Joao Albasinistrate het ook reeds in die slag gebly en is onderskeidelik vervang met die name Tshirululuni en Hlanganani. Hlanganani beteken om saam te kom of te beraadslaag, terwyl Tshirululuni verwys na die area waar Louis Trichardt tans is, alhoewel Tshitandani eerder in die volksmond posgevat het.

Prof. Koos van Rooy sê dat alhoewel hy nie 'n probleem het met die verandering van 'n straatnaam nie, hy sterk voel dat die verandering van die dorp se naam heenwys na 'n gebrek aan welwillendheid teenoor die Afrikaner en dat dit net so goed is asof die Afrikaner en sy geskiedenis nie bestaan nie.

Die naamsveranderingsmania het monentum gekry nadat die LUK vir Plaaslike Regering en Behuising, mnr. Joe Maswanganyi op 28 Januarie aangekondig het dat dit tyd is vir 'n nuwe politieke bedeling in die provinsie en dat die huidige straatname en dorpsname 'n tragiese verlede met politieke onderdukking verteenwoordig.

Op 21 Februarie het die burgemeester, mnr. Brighton Tlakula, op 'n spesiale raadsvergadering aangekondig dat die dorpsnaam Louis Trichardt verander gaan word na Makhado en dat ook die straatname van drie wit pioneers verander gaan word. Die voorsitter van die herbenoemingskomitee (Renaming Committee), mnr. Elias Musitha, het bevestig dat die Geografiese Pleknaamraad van Suid-Afrika die aansoek om die naam van Louis Trichardt na Makhado te verander, terugverwys het na die Munisipale Raad, omdat daar alreeds 'n dorpie met die naam van Makhado in Nzhelele is. Hy sê dat die Raad op 7 Mei besluit het dat die inwoners van laasgenoemde dorpie gemobiliseer sal word om húlle dorpsnaam te verander.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines