ADVERTISEMENT:

 

Wees in jou pasoppens vir sogenaamde rekenaartegnici wat jou skakel, waarsku inwoners wat al onder hierdie slenter deurgeloop het. Me. Elza van Heerden is een van diegene wat deurgeloop het.

Pasop vir dié gladdebek “tegnici” wat wil help

 

News  Date: 30 August 2013

 

Wees in jou pasoppens vir sogenaamde rekenaartegnici wat jou skakel, waarsku inwoners van Makhado (Louis Trichardt) wat al onder hierdie slenter deurgeloop het.

Dié mense gee voor hulle is verteenwoordigers van Windows of Microsoft en ken selfs jou “unieke” rekenaarnommer om jou te oortuig. Daarna werk hulle glo aan jou rekenaar oor die telefoon en uiteindelik kan jy hulle “dienste” huur vir tot R4 000 vir drie maande.

Me. Elza van Heerden het deurgeloop onder hierdie skelmstreek en wil ander goedgelowige persone waarsku om nie met hierdie mense te praat nie. “Hulle klink heel onskuldig en met hul gladde Engels en ‘n Indiër aksent oortuig hulle jou van hierdie groot probleme wat Windows op jou rekenaar ontdek het en wat hulle gaan uitsorteer. Hulle het my van 11:00 tot 13:00 besig gehou en die bobotie wat ek vir middagete beplan het, het deur die mat geval,” sê Van Heerden.

Van Heerden sê ook dat hulle vir jou ‘n “ID” nommer van jou rekenaar gee wat jy dan op jou skerm kan verifieer. Uiteindelik het hulle haar oorreed om met haar kredietkaart te betaal vir drie maande se dienste teen R3 750, met nog uitgawes by, wat dan uiteindelik net meer as R4000 bedra. “Die ‘werk’ wat hulle aan die rekenaar oor die landlyn doen, laat alles op die skerm so vinnig spin,” sê Van Heerden. Die voorval het op 22 Augustus plaasgevind.

Van Heerden se man, Jacques, reeds afgetree en ‘n professor op kontrak by Univen, was tuis met siekte. Hy het later die petalje herken as ‘n slenter, die rekenaar afgesit en die rekenaar teruggestel na ‘n vroeër datum. “Geluk by die ongeluk, daar was nie geld in ons rekenings nie en Elza kon die transaksies by die bank stop,” sê hy.

By die bank gekom, het Elza uitgevind dat die persoon reeds twee keer probeer het om die sowat R4 000 te trek.

Intussen het me. Juliana Kruger ook soortgelyke oproepe ontvang, maar Dinsdag het sy die foon vir haar dogter gegee.  Me. Gerda Hayes is ‘n rekenaarprogrammeerder van die Strand en het die oproeper vinnig as ‘n leuenaar uitgevang.  “Hy het gesê hy woon in die Kaap en toe ek vra in watter voorstad, het hy gesê Gauteng. Dit het hom glad nie gehinder as ek sy leuens uitwys nie. Ek het vir hom gesê dat dit nie vir hom moontlik is om te sien watter virusse ek op my rekenaar het nie. Dit het hom ook nie gehinder dat ek hom met die polisie gedreig het nie,” sê Hayes. Die nommer vanwaar sy geskakel is, was 001 800 180 200, maar wanneer daar teruggeskakel word, bestaan die nommer nie.

Microsoft noem die persone wat hierdie slenters bedryf “kuberkriminele” en beklemtoon op hulle webwerf (www.microsoft.com) dat hulle nie hul kliënte bel en rekenings oor die foon gee vir herstelwerk nie.

David Jacoby, Kaspersky deskundige, verwys op 4 Augustus na hierdie nuutste slenter wat tans in verskillende lande soos Duitsland, Swede en Brittanje aan die gang is. Kommentaar daarop kom van  baie "slagoffers", vanuit die VSA en ander plekke (http://www.securelist.com/en/blog/208193750/).

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines