ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Nog ‘n myn het visier op die Soutpansberg

 

News  Date: 30 August 2013

 

Nog ‘n mynmaatskappy het hulle versier op die Soutpansberg-streek gestel.

Boere en inwoners van die Vivo-omgewing het verlede week hulle bekommernis gelug oor Renda Coal wat ‘n prospekteeraansoek vir steenkoolmynbou, in onder meer die soutpanne noord van die Soutpansberg, ingedien het.

Die Bo-Brakboerevereniging het verlede week in ‘n persverklaring hul misnoeë rondom dié nuwe verwikkeling te kenne gegee. Volgens die boerevereniging se woordvoerder, mev. Erika Helm, doen Renda Coal tans aansoek om op 10 plase tussen Vivo en Waterpoort vir steenkool te prospekteer. Die soutpanne, tussen Waterpoort en Vivo, vorm deel van Renda se aansoek. Die totale area beslaan sowat 11 000Ha.

Die Soutpanne, sê Helm, word al vir meer as 100 jaar lank op ‘n ekologies-vriendelike wyse ontgin. 

Sedert die vereniging in Junie vanjaar van Renda se aansoek gehoor het, sukkel hulle om ‘n konsultasievergadering met die mynmaatskappy te belê.

‘n Vergadering wat vir 20 Augustus belê is, is gekanselleer nadat heelwat addisionele geaffekteerde partye, wat nie grondeienaars is nie, deur Renda na die vergadering genooi is. Voldoende dokumentasie is ook nie deur die myn verskaf nie en die boerevereniging het versoek dat dié in Afrikaans beskikbaar gestel moet word alvorens ‘n nuwe vergadering gehou sal word.

Volgens mnr. Phumudzo Mudzusi van Renda Coal is hulle ‘n plaaslike minerale eksplorasiemaatskappy met belange in Noord-Wes, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.  Hy het vandeesweek gesê dat Renda hulle prospekteerlisensie aansoek reeds op 27 September verlede jaar by die Departement van Minerale Hulpbronne ingedien het. “Daar is historiese inligting dat dié area ryk is aan steenkool,” het Mudzusi Dinsdag gesê.

Renda is op 3 Junie vanjaar deur die departement ingelig om konsultasievergaderings met grondeienaars en geaffekteerde partye te hou alvorens ‘n prospekteerlisensie uitgereik sal word.

“Ek is tans in die proses om die vereniging se dokumente in Afrikaans te vertaal, en ons sal hopelik binnekort met die vereniging in gesprek kan tree,” het Mudzusi gesê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines