ADVERTISEMENT:

 

Mnr David Mukosi, Vhembe se waterdienste bestuurder in Makhado (Louis Trichardt), het Maandag bevestig dat die munisipaliteit al vir drie of vier weke onverpoos by die mangat in die veld oorkant die spoorlyn in Pretoriusstraat werk. Hier staan ´n groep by die mangat.

“My huis is vol #@%, hoe nou?”

 

News  Date: 30 August 2013

 

Makhado (Louis Trichardt) se kroniese rioolstortings het die afgelope week weer vir groot ongelukkigheid en frustrasie gesorg, met een gesin wie se hele kombuis met rou riool oorstroom is.

Mnr. Hennie Engelbrecht, wat op die hoek van Kleynhans- en Pretoriusstraat woon,  was bitter ontsteld toe munisipale riool vanuit die Pretoriusstraatlyn in sy huis begin opstoot het. “Dis chaos. Ek is al twee weke met die munisipaliteit besig oor die rioolgat wat lek en vanoggend elfuur het dit in my huis begin uitloop,” het Engelbrecht op 21 Augustus gesê. Hy het selfs die burgemeester via sy sekretaresse genooi om te kom kyk na die gemors, maar sonder reaksie. Engelbrecht het amper elke uur geskakel en die probleem by verskillende persone aangemeld. “Ek het om 15:38 vir hulle gesê: My huis is vol  #&@%, wat moet ek nou nog doen?” sê Engelbrecht.

Dié aand het die Zoutpansberger gesien hoedat die hele kombuis onder riool is en die riool begin deursyfer het na die matte in die aangrensende vertrekke, ten spyte van planke en ‘n sandkeerwal wat gebou is. Die kombuiskaste was pas ingesit en die riool het in die yskas en stoof ingegaan. ‘n Vinnigvloeiende rioolrivier het deur die kombuis en by die agterdeur uit gevloei. Engelbrecht se eggenote, Jacoba, het gesê die bediendes het probeer vee en vee, maar die riool het net aanhou opstoot.  “Ons sal pille teen cholera vir ons gesin en die bediendes moet kry. Hierdie is ‘n gesondheidsrisiko,” het Jacoba gesê. Hulle was genoodsaak om die ekstra uitgawe aan te gaan om kos te gaan koop, omdat dit onmoontlik en gevaarlik was om in die kombuis te probeer kosmaak. “Wie gaan betaal vir die vervanging van hierdie kaste en matte?" het Engelbrecht gevra.

Hulle huis is een van die ou tipe huise wat een drein buite die huis en een drein binne in die huis het.

Verskeie inwoners het sedert 11 Augustus dieselfde rioollek en die gevolge daarvan op die AfriForum/Vhembe-klagtelyn aangemeld. Op 15 Augustus het mnr. Moses Shibambu van die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) geantwoord dat tegnici reeds aan daardie en ander rioolprobleme begin werk het.

Mnr. David Mukosi, VDM se waterdienste bestuurder in die dorp, het Maandag bevestig dat die span al vir drie of vier weke onverpoos by die mangat in die veld oorkant die spoorlyn in Pretoriusstraat werk. Hulle het die pad daarheen al heeltemal oopgery. Die mangate daar is geweldig diep. Hulle kon geen obstruksie in die mangat in gebruik vind nie en het die ongebruikte mangat daar naby ook oopgegrawe. “Daarin het ons ‘n rubberwiel gevind wat eintlik lyk asof dit met ‘n doel daarin gesit is. Op een of ander wyse is die twee mangate verbind en moes ons die wiel daar uitkry,” het Mukosi gesê en die hoop uitgespreek dat hulle masjinerie sal kan bekom wat dwarsdeur sulke harde voorwerpe in ‘n rioollyn kan boor.  Hulle het verskeie ander planne in werking gestel om te probeer om die vlak van die riool te laat sak, sodat dit kan ophou om die woongebied te oorstroom.

Mukosi het gesê dat die plekke waar die riool geloop het almal gechlorineer moet word en was dankbaar om te sien dat Engelbrecht reeds chloor op die hoek van Kleynhans en Pretorius gegooi het.

Maandag het Mukosi saam met die Zoutpansberger ‘n besoek aan Engelbrecht se huis gebring. Dit was ongelooflik om te sien dat die bediende daardie vuil vloer skoon gekry het. Almal het duimvas gehou dat die riool nie weer al haar werk ongedaan sou maak nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines