ADVERTISEMENT:

 

Foto: Isabel Venter

Digte rookwolke laat inwoners na asem snak

 

News  Date: 30 August 2013

 

‘n Digte, swart rookwolk, afkomstig van ‘n brand by die munisipale stortingsterrein buite Makhado (Louis Trichardt), het die afgelope week behoorlik inwoners na hul asems laat snak.

Die brand, waarvan die oorsaak steeds onbekend is, het Maandag uitgebreek. In Februarie vanjaar het daar ook ‘n brand by die stortingsterrein uitgebreek. In daardie stadium het die stortingsterrein oorgeloop en het menige inwoners gemeen die brand is doelbewus gestig om ontslae te raak van die oormaat vullis.

‘n Inwoner van die onmiddellike omgewing, prof. Ben van der Waal, is erg ontstoke oor die brand. “Dit lyk my dit is nou twee maal per jaar se ding.  In die nag, as die wind gaan lê, sak die verstikkende rook op die hele gebied neer. Al hou jy jou vensters toe, hoes jy die hele nag. Die rook is karsinogenies - dit kan kanker veroorsaak - want dit kom van brandende plastiek en ander giftige stowwe,” sê Van der Waal.  

Die Kutama Sinthumule Maksimumgevangenis se aangehoudenes, bewaarders en personeel tel ook onder diegene wat sleg deurloop onder brande by die stortingsterrein. Die rookwolke tref die tronk voluit. Van der Waal het Dinsdag ‘n e-pos van die direkteur van die tronk ontvang.  Die direkteur, mnr. Lazarus Ncongwane van South African Custodial Management (SACM) het ‘n klagte gelê by Limpopo se nuutaangestelde LUR van Gesondheid, me. Letsatsi Duba. Dit is gedoen omdat dieselfde probleem weer kop uitgesteek het en vorige klagtes by die plaaslike burgemeester geen reaksie of terugvoer opgelewer het nie.  “Indien geen aksie deur die LUR geneem word nie, sal ons volgende stap wees om die openbare beskermer te nader,” skryf Ncongwane.

Van der Waal meen dat die gedurige brande te wyte kan wees aan swak beheer. “Dit lyk vir my dis ‘n onbegonne taak om hierdie stortingsterrein volgens die basiese reëls te bestuur. Hulle moet een vlak gebruik, dit daagliks toegooi met grond en kompakteer, sodat daar altyd ‘n vlak ooplê. Maar al die vullis lê oop, dis nie toegegooi of gekompakteer nie en nou is dit aan die brand,” sê Van der Waal.

Die woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Louis Bobodi, sê dat die vullis daagliks met grond toegegooi word. Hy noem dit as een van die munisipaliteit se maatreëls om brande te voorkom. Nog ‘n maatreël wat hy noem, is die aankoop van nuwe masjiene.

By die nuus van die brand het Bobodi gesê dat hy dit dadelik sal opvolg met sy meerderes .  Hy het in ‘n e-pos geantwoord dat hulle ‘n stootskraper gebruik om die vuur te blus. Daar was dan ook inderdaad Maandagaand ‘n masjien te hore in die erge rook wat oor die terrein gehang het.

Nie alleen skep die brande en rook ‘n gesondheidsrisiko nie, maar die oorvol terrein self is ‘n teelplek vir vlieë en 'n broeiplek vir peste. Dit is bekend dat hierdie terrein al seker meer as vyf jaar gelede gesluit moes gewees het. Die vraag is wat geword het van die nuwe stortingsterrein op die Vivo-pad wat al sedert 2007 ter sprake is? 

Bobodi sê dat die tenders vir die nuwe stortingsterrein reeds gesluit het en dat die munisipaliteit in die proses is om ‘n diensteverskaffer aan te stel.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines