ADVERTISEMENT:

 

Gerhard se bakkie, waarin hy, Rick Coetzee en sy werker Innocent Hove Maandagaand verongeluk het op die Vivo-pad.

Ongeluk eis drie

 

News  Date: 30 August 2013

 

‘n Gru-botsing het Maandag drie families van Makhado (Louis Trichardt) gebroke gelaat, nadat aldrie geliefdes aan die dood moes afstaan.

Baie in die gemeenskap is geraak deur die dood van Gilbert Gerhard (43) en Rick Coetzee (64). Beide van hulle is Maandagaand in ‘n motorongeluk oorlede. Een van Gilbert se werkers, wat al 13 jaar sy regterhand is, Innocent Hove, is ook dood in die ongeluk.

“Ons het altyd gedink toe my pa oorlede is op 60-jarige ouderdom dat dit bitter jonk is. Ek en Gilbert het elke dag kontak gehad.” So het Gilbert se suster, Ansu, Woensdag gesê na Gilbert se ongeluk. Hy het Maandagaand, saam met Rick en Innocent, op die Vivo-pad terug bestuur dorp toe.

Gilbert, wat sy eie grasdak-onderneming op die dorp het, was besig om ‘n grasdak op te sit vir ‘n kliënt. Rick het die elektriese installering gedoen. Op pad terug, sowat 40km vóór Makhado (Louis Trichardt), het Gilbert in ‘n draai op die pad glo uitgeswaai vir ‘n dier in die pad en beheer oor sy bakkie verloor. Die bakkie het begin rol en in die bosse te lande gekom.

Gilbert, Rick en Innocent is opslag oorlede. 

Teen druktyd is daar nog gewag op die polisie vir uitklaring oor wat presies voor Gilbert in die pad gespring het. Sommige berigte het aangedui dat dit koedoes was, terwyl ander vertel het van ‘n trop beeste op die pad.

Wyle Gilbert, wat maar altyd ‘n “bosmens en vriende met almal was”, sal Vrydag om 11:00 op die familieplaas in die Alldays-omgewing begrawe word. Hy laat sy vrou Christelle, twee kinders Carlien (11) en Gilbert (9), asook sy ma en broers en susters agter.

Rick, of oom Rick soos hy aan baie plaaslike fietsryers bekend was, sal gemis word vir sy groot hart, sy gewilligheid om te help en sy vriendelikheid. “Oom Rick, ons weet dat jy nou in die hemel is en ‘n ogie oor ons almal hou en toejuig met elke deelname en prestasie,” was die woorde van jarelange vriend en organiseerder van die P&L Hardeware Fietsryklub me. Renda Alexander.

Daar sal hierdie Vrydag om 15:00 ‘n roudiens vir oom Rick vanuit die NG Kerk-moedergemeente gehou word.

Teen druktyd was daar nog geen begrafnisreëlings vir Innocent beskikbaar nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines