

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 May 2002
LOUIS TRICHARDT – Twee vroue is hier hardhandig in 'n kantoor toegesluit tydens 'n astrante rooftog helder oordag by 'n haarsalon.
Nagenoeg R4 000 is geroof tydens die voorval wat Vrydagmiddag net na sluitingstyd by Salon André in Kroghstraat plaasgevind het.
Twee mans het by die salon ingestap, terwyl die laaste twee personeellede gereed gemaak het om te sluit. Hulle het geld geëis.
Toe die vroue vir hulle sê daar is geen geld nie, het die rowers die vroue gegryp en hulle in die kantoor agter in die salon ingedwing en hulle daar toeggesluit. Hulle het toe na die toonbank beweeg en die twee vroue se handsakke en die salon se geldsak gesteel en hulle uit die voete gemaak.
Die vroue het deur die venster hulp ontbied.
Alle pogings om die polisie by 10111 te bel, het misluk. Die nommer het pal beset gebly. 'n Omstander het na die polisiekantoor gery om hulle van die rooftog te verwittig.
Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.

ADVERTISEMENT:
