ADVERTISEMENT:

 

Kwadrupleeg ongelukkig oor polisie se optrede

 

News  Date: 17 May 2002

 

LOUIS TRICHARDT – 'n Kwadrupleeg wat in sy rolstoel aangerand is deur 'n motoris wat hom amper raakgery het, sê die Polisie op Louis Trichardt doen geen moeite om sy regte te help beskerm nie.

Mnr. W.J. Herbst, wat altwee sy bene verloor het en permanent van 'n rolstoel gebruik moet maak, sê die polisie het nou na ses maande nog geen vordering te rapporteer in 'n ondersoek na 'n aanrandingsaak waarin 'n woedende motoris hom met 'n paal oor die kop en skouers geslaan het.

Hy sê hy het die motoris gevloek, toe dié hom so byna in sy rolstoel raakgery het met 'n bakkie vol teerpale. Die bestuurder van die bakkie het stilgehou en hom stormgeloop en met 'n paal verskeie houe toegedien.

Hy het die saak by die polisie gaan aanmeld, met 'n beskrywing van die voertuig en die voertuig se registrasienommer.

Mnr. Herbst sê toe hy drie maande later gaan navraag doen oor die ondersoek na die voorval, is hy meegedeel: "The case is closed."

Nadat hy by die stasiebevelvoerder beswaar gemaak het, is die saak toe weer geopen, maar nou, ses maande later, sê hy, het nog niks gebeur nie.

Hy sê hy is ook baie ontevrede met die manier waarop die Polisie hom behandel het toe hy 'n paar maande later een nag omstreeks 21:00 ook weer in sy rolstoel aangerand is. Hy is in die voorval aan sy kop en gesig beseer en is na die Polisiekantoor om die saak aan te meld. In plaas van hom te help het hulle hom uitgelag en gevloek, sê hy. Hy is ook baie ontevrede omdat hulle geweier het om hom hospitaal toe te help. Hy sê die ondersoekbeampte het aanvanklik geweier om die saak te open, voordat hy by die hospitaal ondersoek is en die uitslag op die voorgeskrewe vorm ingevul is.

Vandeesweek het die plaaslike SAPD-bestuur bevestig dat hulle kennis dra van mnr. Herbst se besware en dat die aangeleentheid op bestuursvlak hanteer word.

Die bevelvoerder van die plaaslike Speurtak, Kapt. Ebenezer Seckle, sê in altwee die aanrandingsake is die ondersoeke nou voltooi en na die plaaslike staatsaanklaer verwys vir 'n beslissing.

In verband met die voorval in die aanklagkantoor, sê kapt. Seckle die betrokkenes is in die teenwoordigheid van mnr. Herbst in die stasie bevelvoerder se kantoor tereggewys en die aangeleentheid word verder intern gehanteer.

'n Direktief is intussen ook uitgereik om die hoflikheid van beamptes aan diens in die aanklagkantoor op te skerp.

"Alle lede van die publiek is sonder uitsondering geregtig op hoflike en professionele behandeling," het kapt. Seckle gesê. Hy sê mnr. Herbst was vandeesweek weer by die polisiekantoor, waar hy die bestuur ontmoet het en waar die hele aangeleentheid opgeklaar is. Kapt. Seckle sê mnr. Herbst het aangedui dat hy nou tevrede is met die bestuur se optrede en dat die hele aangeleentheid bevredigend afgehandel is.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines