

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 June 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – "Wat maak dit saak? Dit bring nie jou kind terug nie. Al was die doodstraf nog in plek, sou dit steeds niks verander het nie."
Dit was die woorde van mnr. Piet Bezuidenhout, vader van die negentienjarige Charl Bezuidenhout wat in April verlede jaar op Ramokgopa vermoor is.
Mnr Bezuidenhout het gepraat na afhandeling van die hooggeregshofsaak waarin drie verdagtes vir die moord op sy kind tereggestaan het. Die saak het op 28 Mei vir vonnisoplegging voor regter Willem van der Merwe in Polokwane gedien.
Twee van die beskuldigdes in die saak, Selaelo Richard Kganaga (34) van Matoks en Sello Frans Mokou (19) van Tembisa, is elk tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Daarbenewens is beide 'n verdere 15 jaar tronkstraf opgelê op klagte van roof met verswarende omstandighede, sewe jaar tronkstraf op klagte van die onwettige besit van 'n vuurwapen en een jaar tronkstraf op klagte van die onwettige besit van ammunisie.
Kganaga is ook twee jaar tronkstraf opgelê op 'n klag van vuurwapendiefstal. Die derde beskuldigde, Richard Rakgate (25) van Matoks, is op alle aanklagte vrygespreek, aangesien hy nie direk met die moord verbind kon word nie. Die stil, stemmige Charl, of Goliat soos hy aan sy skoolvriende bekend was, is op 4 April deur 'n groep gewapende mans voor Baduma General Dealer op Ramokgopa op koelbloedige wyse doodgeskiet. Die voorval het plaasgevind terwyl hy besig was met kontantinvorderings.
Rakgate, Kganaga en Mokou is kort na die voorval aangekeer en 'n groot hoeveelheid kontant is teruggevind. Tydens hul arrestasie is daar ook beslag gelê op verskeie ongelisensieerde handwapens.
Charl het in 2001 aan Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer. Hy was 'n uitmuntende sportman, beide op plaaslike en provinsiale vlak, asook op nasionale vlak. Reeds op laerskool was hy vir drie agtereenvolgende jare Suid-Afrikaanse gewigstootkampioen in sy ouderdomsgroep. Op hoërskool was hy lid van die provinsiale atletiekspan en houer van menige gewigstootrekords. Tydens sy laaste jaar op skool is hy ook aangewys as die skool se Sportman van die Jaar. Buiten vir atletiek het Charl ook in rugby en krieket uitgeblink en met erekleure in beide sportsoorte gespog. Hy was lid van die Blou Bulle Rugby-unie se ontwikkelingspan in 2001 en het tydens sy matriekjaar opgetree as onderhoofseun en koshuishoofseun van Hoërskool Louis Trichardt. Sy skielike dood het as groot skok gekom vir inwoners, maar veral vir sy skoolmaats wat slegs 'n paar maande vantevore nog die skoolbanke met hom gedeel het.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
