

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 May 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Bedrywige jagseisoen word in die vooruitsig gestel, met die heersende koel weer 'n belangrike plusfaktor vir die hele bedryf.
Die voorsitter van die Soutpansbergtak van die Bosveld Jagtersvereniging, mnr. Fred Mulders, het by navraag gesê die seisoen verloop tot dusver baie goed. Heelwat koeler weer word vanjaar ondervind in vergelyking met die vorige jaar. Dit is 'n gunstige faktor, omdat dit die bedreiging van vleisbederf vir die jagters verminder.
Mnr. Mulders sê hoewel pryse in die jagbedryf ook geneig is om te klim, is die mark vanjaar merkbaar meer stabiel as verlede jaar en kan jagters met 'n bietjie moeite en rondvra billike en gunstige pryse beding. Die pryse is onderhewig aan die normale markkragte.
Hy sê tot dusver was jagters baie tevrede met die kondisie van die beskikbare wild.
"Hoewel dit baie droog was in die najaar, is daar tog baie kos. Die kondisie is oor die algemeen pragtig en die mense is tevrede," sê hy.
Wat trofeejagters uit die buiteland betref, sê mnr. Mulders die jagte word baie duur. Die jag van die sogenaamde Groot Vyf en gevaarlike diere word net al duurder. Dit word internasionaal in Dollar-terme bemark en die posisie van die Rand maak dit gevolglik moeilik om plaaslik mee te ding. Die onstabiliteit in Zimbabwe bring 'n groter toeloop mee na Suid-Afrika.
Met betrekking tot biltongjag, is die bokke teen heelwat billiker terme beskikbaar. In die huidige marksituasie kan redelike pryse vir biltongbokke beding word.
Mnr. Mulders het 'n beroep op jagters gedoen om eties en binne die perke van die bestaande wetgewing te jag.
"Dit is ook bevorderlik vir die stabiliteit binne die bedryf. As die wild meer word kan beter pryse beding word."
Hy het 'n beroep op wildboere gedoen om nie bona fide jagters af te skrik met onrealistiese hoë pryse nie.'n Stabiele mark is tot voordeel van alle partye.

ADVERTISEMENT:
