ADVERTISEMENT:

 

Wyle dr. Piet Kruger (77). Foto verskaf.

Groot sendingman oorlede

 

News  Date: 05 September 2013

 

Die heengaan van ‘n groot sendingman, dr. Markus Petrus Kruger, of dominee Pieter soos hy bekend was, laat ‘n leemte, maar sy nalatenskap van die liefde van die Here in diegene wat agterbly, leef voort.

“Pappa het nie van kanker gesterf nie.  Hy het gegaan omdat sy Vader hom kom haal het.  Oor sy lewe hang daar net een woord in ons gedagtes: Vrede.  Markus, die stryder, se stryd is verby. Petrus, die rots, se geloof het gebly ... in ons,” sê sy kinders in hul huldeblyk aan  ‘n sonderlinge gelowige wat sy laaste sente sou uithaal om armes van kos en hulp te voorsien.

Pieter Kruger is op 10 Maart 1936 in Bloemfontein gebore waar hy in 1853 gematrikuleer het en ook sy BA graad verwerf het. Hy het sy onderwyskwalifikasie by UP amper voltooi, toe hy vir die bediening geroep is en hom as predikant in die Gereformeerde Kerk aan die Potchefstroomse Universiteit  bekwaam het. Hy het ‘n doktorsgraad in Missiologie verwerf.

Op 7 April 1962 is Pieter met Juliana, ‘n nooi Coetzee, getroud. Hulle eerste gemeente was in Ladysmith in kombinasie met Glencoe en Estcourt, gevolg deur Lindley in die Vrystaat. Hul eerste volwaardige sendinggemeente was Daniëlskuil in die Noordkaap met sendingopdrag Kuruman, alles in voorbereiding vir sy lewenstaak, die De Hoop/Malumelele sending met ‘n sendingveld wat oor  Venda, Gazankulu en Leboakgomo gestrek het. Buiten sy taalstudies in Grieks en Hebreeus, was hy Afrikaans, Engels, Zoeloe, Noord-Sotho, Venda en Tsonga magtig.

Na sy aftrede in 2001 het dr. Pieter dadelik met sendingwerk by die Kutama/Sinthumule maksimum gevangenis begin en daarmee volgehou tot drie weke voor sy dood op 29 Augustus. “As hy van die tronk af kom, het hy ‘n diens vir ‘n groepie Zimbabwiërs in Tshikota gaan hou,” vertel Juliana.

Sy onthou nog die nag toe haar man nie teruggekom het huis toe nie. Dit was in die dae voor selfone. “Oom Pieter het die nag van sy besoekpunte af teruggery en op ‘n gebreekte bus afgekom. Hy het hulle deur die nag bygestaan en eers teruggekom nadat ek weg is van die huis om te gaan skoolhou,” sê Juliana. “Dit tipeer sy lewe: ‘n dienaar. Hy het my so bederf! Wat hy vir jou kon doen, het hy gedoen.”

Ds. Pieter het met ‘n groep jong swart kinders vakansieveldtogte gehou en hulle geleer om te evangeliseer, asook gehelp om hulle te laat leer. Vandag is sommige van hulle vooraanstaande akademici, soos prof. Derrick Mashau, wat saam met prof. Koos van Rooy die diens om ds. Pieter se lewe te vier, waargeneem het.  Die diens op 2 September in die Gereformeerde Kerk in Makhado (Louis Trichardt) is bygewoon deur baie vriende oor kultuurgrense heen.  Prof. Van Rooy het gesê dat lyding en onreg twee dinge was wat ds. Pieter nie kon verduur nie. “In ’n apartheidsamelewing het Pa mense wat anders was, liefgehad en gerespekteer.  Dankie vir hierdie erfenis," sê sy kinders.

Kort voor sy dood het ds. Pieter sy visie van 'n sentrum vir haweloses in die dorp met dringendheid gedeel en gevra dat ander dit sal help realiseer.

"Van al die dinge wat ons ons pa sien leef het, was sy verhouding met die Here die kosbaarste erfenis … Hy was eg,” sê sy kinders.

Dr. Pieter word oorleef deur sy vrou, Juliana, vyf kinders, Chris Kruger, Sarlina Prinsloo, Jan Kruger, Gerda Hayes en Mimi van der Walt en hul eggenotes en 15 kleinkinders.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines