ADVERTISEMENT:

 

'n Lid van die plaaslike polisie vertoon die 400 "sticks" dagga wat in die 24-jarige Selwyn Konson se besit gevind is. Konson beweer hy het bloot die dagga vir 'n vriend gerol.

Dwelmhandel ook hier 'n probleem

 

News  Date: 14 May 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – "Die probleem van dwelmhandel in die streek is groot. Om die waarheid te sê, Louis Trichardt is een van die groter sentra wat betref dwelmhandel en -gebruik."

So het s/sers. Brandt Oosthuizen die afgelope week gereageer op 'n vraag oor die omvang van dwelmhandel en die gebruik daarvan in die streek. Hy is verbonde aan die polisie se afdeling vir georganiseerde misdaad in Thohoyandou, wat sedert die ontbinding van die polisie se narkotiese buro verantwoordelik is vir die ondersoek van dwelmverwante misdade.

S/sers. Oosthuizen se woorde kom as slegte nuus vir oud en jonk wat steeds onder die indruk is dat Louis Trichardt die gewetenlose aanslag van dwelmsindikate- en handelaars nog grootliks kon vryspring. Die harde waarheid is egter dat dwelmbase en –handelaars die dorp sien as 'n goeie bron van inkomste.

"Wat jy ookal soek, sal jy kry. Dit hang net af van hoe goed jou kontakte is. Dwelms soos dagga, Mandrax, kokaïne, heroïne en LSD, om maar 'n paar te noem, is vrylik beskikbaar," vertel s/sers. Oosthuizen.

Dwelmmisbruik is 'n hartseer werklikheid wat vir sommiges te laat tot insig kan bring. So het inwoners in Desember verlede jaar verneem van die selfmoord van 'n jong inwoner van die dorp, die 19-jarige Deon van Zyl. Sy ma, Valerie, is steeds daarvan oortuig dat dwelms, alkohol en seks 'n groot rol gespeel het by haar seun se dood.

Op 10 Mei is die Van Zyl-gesin se buurman se seuns, die 24-jarige Selwyn Cyril Konson, aangekeer met 400 "sticks" dagga. Die dagga, oftewel Durban Poison soos dit op straat bekend staan, is in sy kamer gevind tydens 'n laataand klopjag. In sy verweer het Konson gesê dat hy bloot die sticks vir 'n vriend van hom gerol het. Die sticks verkoop vir sowat R7,50 elk en die straatwaarde van die dwelmvonds word geraam op sowat R3 000. 'n Stick is 'n baie klein hoeveelheid dagga wat op 'n spesiale manier gerol word. Dwelmgebruikers gebruik sowat vier of vyf sticks om een dagga zol te maak.

Konson het Dinsdag in die plaaslike landdroshof skuldig gepleit op 'n aanklag wat verband hou met die besit van dagga. Alhoewel dit nie bewys kon word dat hy daarmee gehandel het nie, het staatsaanklaer Reino Mostert die hof versoek dat hul vonnis 'n duidelike boodskap moet uitstuur rondom dwelmhandel en -gebruik. Hy het die hof meegedeel dat, alhoewel Konson beweer dat hy slegs die sticks vir 'n vriend gerol het, hy moet besef dat dit uiteindelik op straat sou beland vir die verkoop daarvan. Konson is kort daarna deur landdros Bennie Smith gevonnis tot 'n boete van R2 500 of vier maande gevangenisstraf plus 'n addisionele 12 maande direkte gevangenisstraf, wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar. Dit was 'n swaar vonnis, gesien in die lig daarvan dat dit Konson se eerste oortreding was.

Sowat 'n week voor Konson se inhegtenisname, is 'n bekende sakeman van die dorp in Polokwane gearresteer, nadat hy in besit betrap is van sowat drie gram kokaïne. Die polisie het versoek dat sy naam nie bekend gemaak moet word nie weens die sensitiwiteit van hul ondersoek.

S/sers Oosthuizen sê dat dit moeilik is om 'n kontantwaarde te heg aan die hoeveelheid dwelmtransaksies wat in Louis Trichardt gedoen word. Hy het wel gespekuleer te sê dat dit etlike honderde duisende rande per maand beloop.

Oor die profiel van dwelmgebruikers in die streek het s/sers. Oosthuizen gesê dat die probleem glad nie diskrimineer nie.

"Daar is geen spesifieke ouderdomsgroep nie. Daar is dwelmgebruikers wat wissel van jongmense tot volwassenes. 'n Mens kan ook nie 'n spesifieke bevolkingsgroep uitlig as die grootste gebruikers nie."

S/sers. Oosthuizen sê dat hulle graag van die polisie se kant af 'n boodskap wil uitstuur aan mense wat hulself skuldig maak aan dwelmhandel en –gebruik.

"Wees maar versigtig, ons sal julle vastrek. Moenie skrik as ons met of sonder 'n lasbrief by jou opdaag en jou huis deursoek nie. As jy betrokke is by dié tipe misdrywe, gaan ons jou besoek."

S/sers. Oosthuizen het inwoners uitgenooi om met hom te skakel, indien hulle inligting kan verskaf oor moontlike onwettige dwelmbedrywighede in die dorp. Hy sê hulle het reeds baie name van persone ontvang wat na bewering betrokke is by dwelmverwante misdade. Sy nommer is 082 296 2302.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines