ADVERTISEMENT:

 

Afgeneem is die voorsitter van die Soutpansberg Sakekamer, Me Jana Smith (links), en gasspreker, Musina sakeman past. Boetie Visser. Past. Visser het onder meer insiggewende besonderhede oor naderende groot projekte en die huidige stand van eiendomswaardes en sake-ontwikkeling in Musina met plaaslike sakelui gedeel.

Musina op vooraand van ontwikkeling

 

News  Date: 06 September 2013

 

Musina staan op die vooraand van groot ontwikkeling en bied nou gulde geleenthede vir ondernemende plaaslike beleggers.

'n Bekende sakeman van Musina, pastoor Boetie Visser,  het op die jongste vergadering van die Soutpansberg Sakekamer in Makhado (Louis Trichardt) opgetree as gasspreker en gesê dit sou verstandig wees van sakelui en beleggers op Makhado (Louis Trichardt) om kennis te neem van die veelvuldige sakegeleenthede wat die grootskaalse ontwikkelingsprojekte op Musina bied.

Hy sê in weerwil van die opsigtelike tragiese verval en agteruitgang van infrastruktuur op die dorp, is opwindende vernuwing en groei nou in die vooruitsig. 

Hy sê internasionale rolspelers is reeds bewus van die strategiese ligging van die dorp ten opsigte van die res van Afrika en van die ontwikkelingspotensiaal van die omgewing. Benewens die uitgebreide landboubedry-wighede en mynboupotensiaal in die omgewing, skep die buitengewone kosmopolitiese samestelling van die bevolking en gemeenskap in die dorp ook sy eie buitengewone moontlikhede. Hy het verwys na die groot toestroming van inwoners uit ander Afrika lande en ook uit die Ooste (Pakistan en China) wat hulle op die dorp vestig en hulle hoofsaaklik op die handel toespits. Dit bring mee dat die dorp op die oomblik ‘n oorweldigende vraag na sakeruimte en -persele beleef.

Benewens die Chinese groothandelsentrum wat reeds in bedryf is aan die noordekant van Musina, is een van die myngroepe wat in die omgewing gevestig is ook nou besig met ‘n uitgebreide behuisingsprojek vir sy personeel op die dorp.

Die konstruksie van die beoogde nuwe hoofweg sirkelroete by die dorp, wat verligting sal bring vir die huidige verkeersdrukte in die sentrale sakegebied, sal na verwagting ook vroeg in die nuwe jaar begin.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines