

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 September 2013
Munisipale werkers het hierdie week weer by die Louis Trichardt Landdroshof bymekaar gekom vir die hofverskyning van ‘n inwoner van die streek wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n munisipale amptenaar aangerand het.
Die werkers, almal van die elektrisiteitsafdeling, het Dinsdag die hof se gallery vol gesit vir die verskyning van die 60-jarige Eddie Luies, wat aangekla word van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Luies sou na bewering ‘n munisipale amptenaar van die elektrisiteitsafdeling, mnr. Wisani Tlhabela (34), in Maart vroeër vanjaar aangerand het.
Luies was nie Dinsdag by die hof nie. Sy saak is volgens ‘n vooraf reëling tussen sy prokureur en die staatsaanklaer uitgestel. Dit is gedoen omdat daar nou ‘n teen-dossier deur Luies by die polisie teen Tlhabela gelê is.
Beide die dossiere van Tlhabela en Luies sal nou na die Openbare Vervolgingsgesag se direkteur gestuur word vir beslissing om die partye te vervolg of nie.
Tlhabela het destyds aan die Zoutpansberger se susterskoerant, die Limpopo Mirror, gesê dat Luies hom deur die gesig geklap het. Hy het vertel dat hy Luies se bakkie verbygesteek het op 'n grondpad. Luies het agter sy dogter op haar perd gery. Hy beweer dat Luies hom ingejaag het en toe hy stop, het Luies losgetrek en hom in die gesig geslaan.
Volgens Luies het hy in ‘n woordewisseling betrokke geraak met Tlhabela, omdat laasgenoemde roekeloos bestuur het en derhalwe Luies se dogter se lewe in gevaar gestel het. Toe Luies later ‘n klag van roekelose bestuur teen Tlhabela by die polisie wou aanhangig maak, is hy gearresteer en moes hy 'n nag en ‘n volle dag in die polisieselle deurbring.
Die saak is uitgestel tot en met 7 Oktober.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
