ADVERTISEMENT:

 

"Flikker" van Nico Scheepers in aksie op die verhoog.

Aardklop hier kom ons!

 

News  Date: 09 September 2013

 

Albei toneelgroepe van Hoërskool Louis Trichardt is uitgenooi om aan die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom deel te neem. Dit beteken dat twee van die beste tien tienertoneelstukke in die land van Hoërskool Louis Trichardt kom!

“Dit is regtig puik vir ons skool en ons dorp. Daar was al in die verlede twee stukke van groot stedelike skole, soos Kaapse skole of Pro Arte in Pretoria, wat deurgegaan het, maar ek dink dat hierdie ‘n eerste vir ‘n plattelandse skool is,” het die skoolhoof, mnr. Henry Denner, Maandag gesê. Twee tienertoneelstukke van Hoërskool Durbanville in Kaapstad is ook genooi om van 24 tot 28 September by Aardklop op te tree.

“Dis uitstekend vir die twee jong manne vir die werk wat hulle gedoen het,” het mnr. Denner gesê. Die jong manne na wie hy verwys is die twee regisseurs,  Marcel van Niekerk van Stemtoon en Nico Scheepers van Flikker, wie se stukke onderskeidelik die Gauteng-Suidstreek en die Gauteng-Noordstreek van die ATKV Tienertoneelkompetisie gewen het.

Stemtoon het opslae gemaak deurdat dit vir die regisseur en span ‘n eerste op die verhoog was. “Ons verwagtings is oorskry. Nou moet ons die beoordelaars se repliek noukeurig inwerk en baie oefen voor Aardklop,” sê regisseur Marcel. Die stuk se choreograaf, Stasha van der Spuy, sê dat die stuk op ‘n hoogtepunt eindig, met Jamy Jonker se laaste dans waardeur die hoofkarakter se deurbraak uitgebeeld word.

Wat sê die tieners? “Toe die nuus kom dat ons groep deur is Aardklop toe, was ek oorweldig met groot vreugde! Daar het ‘n nuwe opgewondenheid in my geborrel,” sê Jamy. “Toe ek gehoor het dat ons deurgaan, het ek geweet al die harde werk was die moeite werd!” sê Marietjie Leonard. Stemtoon ontvang as streeksfinalis ‘n totaal van agt goue medaljes, drie silwer en een brons. Jamy en Marietjie kry elkeen goud vir individuele spel, die ekstra karakters kry goud vir ensemblespel, Willem Martin kry goud vir verhoogbestuur, Willem, Donovan Kirsten en Chané Jordaan kry saam goud vir tegniese versorging, en Marcel kry goud vir regie, teks en kostuum. Die beoordelaars het melding gemaak van die besonderse eenheid en samewerking van die groep.

Nico Scheepers van Flikker sê dat hulle baie dankbaar en trots is om die skool die vierde agtereenvolgende jaar by Aardklop te verteenwoordig." Dit voel te goed om waar te wees. Die kompetisie is baie rof, maar ons sal die beker terugbring!” sê Flikker se hoofkarakter, Talita Kloppers. Ndodzo Mawela sê dat dit heerlik is om deel te wees van die groep, wat al soos ‘n “tweede familie” voel. Flikker se Nico Scheepers ontvang goud vir regie, ontwerp en beligting en André du Preez ontvang goud vir individuele spel. Die stuk as geheel ontvang goud vir tegniese afronding en goud vir ensemblespel. Talita, Ndodzo, Didie Moshapo en Medupi Ramaboea ontvang silwer vir individuele spel.

Buiten  Hoërskool Louis Trichardt en Hoërskool Durbanville, is die ander ses skole wat tienertoneelstukke Aardklop toe neem Hoër Meisieskool Bloemhof, Heatherdale Sekondêre Skool, Hoërskole Jan van Riebeeck, Martin Oosthuizen en Zwartkop, asook Potchefstroom Gimnasium.  Die Hoër Meisieskool Bloemhof het in 2012 die wisseltrofee en prysgeld by Aardklop gewen, nadat Louis Trichardt in beide 2010 en 2011 met die louere weggestap het.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines