ADVERTISEMENT:

 

Gerhard se bakkie, waarin hy, Rick Coetzee en sy werker Innocent Hove Maandagaand verongeluk het op die Vivo-pad.

Kontroversie omhul ongeluk

 

News  Date: 09 September 2013

 

Kontroversie omhul nou die gru-ongeluk waarin drie inwoners van Makhado (Louis Trichardt) verlede week oorlede is.

Kort ná Gilbert Gerard (43), Rick Coetzee (64) en Innocent Hove se afsterwe op Maandag, 26 Augustus, het gerugte reeds die rondte begin doen dat ‘n trop rondloperbeeste die blaam dra vir die ongeluk. Dié inligting kon nie verlede week deur die polisie bevestig word nie.

Ná die Zoutpansberger se berig verskyn het, het lesers geskakel en vertel wat hulle op die noodlottige dag op die ongelukstoneel gesien het. Die lesers se weergawes stem ooreen. Op voorwaarde van anonimiteit, het hulle die koerant vertel wat gebeur het.

Daar was glo nooit ‘n wilde dier wat oor die pad gehardloop het en voor Gerhard se bakkie ingespring het nie. Dit was, volgens die lesers, ‘n trop van tussen 10 tot 20 rondloperbeeste. Een ooggetuie, wat in ‘n mini-bus taxi gery het agter Gerhard, het glo gesien hoe Gerhard uitswaai  vir die beeste. Die man het verder ook gesien hoe die polisie later by die ongelukstoneel opgedaag het en eers die beeste by ‘n plaas ingejaag het, voordat hulle aandag aan die ongelukstoneel geskenk het. Nog 'n ander leser, wat kort ná die ongeluk gebeur het verby die toneel gery het, het ook die beeste in die pad gesien.

Gerugte dat dié beeste aan 'n polisiebevelvoerder behoort, kon nie bevestig word nie.

Op grond van die lesers se onthullings het die Zoutpansberger met die ondersoekbeampte in die saak gepraat om uit te vind wat gebeur het. Sy weergawe het egter nie met die lesers se weergawes ooreengestem nie. Volgens die ondersoekbeampte het “die bestuurder van ‘n ander bakkie” wat op pad was na Makhado (Louis Trichardt), regs uitgeswaai vir ‘n “wilde dier”. Gerhard het toe glo links gehou en die dier het voor hom ingespring, waarna hy glo probeer uitswaai het en beheer oor sy bakkie verloor het.

“Daar was nie beeste op die pad gewees nie,” het die konstabel pertinent gesê.

Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Ronel Otto is verlede Vrydag genader met vrae rondom die ondersoek. Sy is ook gevra hoekom polisie eers die beeste sou injaag eerder as om te help. Wat betref die eienaarskap van die beeste, het sy gesê daar moet eers bepaal word of daar beeste op die pad was of nie.

So 'n ondersoek, het Otto gesê, kan net gedoen word as die mense met inligting na vore kom en 'n verklaring by die polisie gaan aflê. “As daar ‘n verklaring is, sal die ondersoekbeampte gaan ondersoek in stel,” het Otto gesê.

Otto het ook gesê dat die polisie nie noodhulp opleiding het nie, en daarom nie gemagtig is om mense op ‘n ongelukstoneel te help nie. “Die polisie se werk is om ‘n ongelukstoneel te beveilig,” het Otto gesê.

Intussen het van die lesers wat die koerant geskakel het, aangedui dat hulle met die ondersoekbeampte sal skakel om hul verklarings vir hom te gee. Otto het ook gevra dat as daar nog mense is wat iets gesien het tydens die ongeluk, hulle ‘n verklaring moet aflê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines